Tegnuus

Dís hoekom Old Mutual nou ook eie virtuele selfoonnetwerk het

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Old Mutual Connect is Suid-Afrika se jongste mobiele virtuele netwerkoperateur. Foto: Old Mutual
Old Mutual Connect is Suid-Afrika se jongste mobiele virtuele netwerkoperateur. Foto: Old Mutual

Benewens dat hy glo daar is aansienlike potensiaal in die mark, is Old Mutual se bekendstelling van sy eie virtuele selfoonnetwerk ook bedoel om die oopmaak van sy bank vroeg aanstaande jaar te ondersteun.

Die maatskappy is die jongste verskaffer van selfoondienste, met Old Mutual Connect se intreevlakpryse wat slegs R5 beloop.

Suid-Afrika se bedryf van mobiele virtuele netwerkoperateurs (MVNO's), waaronder Old Mutual Connect nou tel, groei sterk en het reeds die afgelope dekade meer intekenare as tradisionele netwerkoperateurs soos Vodacom en MTN gewerf.

MVNO's besit nie hul eie netwerkinfrastruktuur nie en huur dit eerder by die groot kanonne soos Vodacom en kie, maar bied wel hul eie produkte en dienste.

FNB, Capitec, Standard Bank, Shoprite en Mr Price is almal maatskappye wat reeds 'n MVNO geloods het.

Volgens Cell C, wat die meeste MVNO's se netwerkinfrastruktuur verskaf, is die plaaslike bedryf jaarliks meer as R100 miljard werd.

LEES OOK |Virtuele selfoonnetwerke slaggereed om Vodacom en kie se intekenare te gaps

"Ons wil bloot ons verhouding met ons kliënte verder versterk deur 'n ekosisteem van dienste te bou wat waarde toevoeg," het Moses Duma, Old Mutual se hoof van kliëntebetrokkenheid, aan die Kaya Biz-podsending gesê.

"Ons werk reeds daaraan om ons dienste verder uit te brei en dit toegankliker te maak. Ons wil ons kliënte die geleentheid bied om bekostigbare data en betroubare internetverbinding te bekom.

"Ons is 'n handelsnaam wat daagliks ‘leef' saam met die gemeenskappe wat ons bedien. Ons kliënte is daagliks met ons in verbinding."

Gegewe die aard van Old Mutual se dienste, wat lewensversekering, aftreefondse en effektetrusts insluit, is daardie stelling regverdigbaar.

Maar die maatskappy is oënskynlik daarvan bewus dat hy sy komende bankdienste beter sal kan bemark as dit vergesel kan word van 'n gevestigde, billike internetdiens.

Dit is veral 'n belangrik oorweging omdat Old Mutual Bank juis die land se laerinkomstegroepe wil teiken, sê Iain Williamson, uitvoerende groephoof.

Miljoene Suid-Afrikaners gebruik hul banke se aanlyn dienste, en daar is reeds mededingers soos Discovery Bank, Tyme Bank en Bank Zero wat hul dienste slegs digitaal lewer.

"Ons kan nie voornemende kliënte vra om op 'n digitale wyse met ons in verbinding te tree as hulle nie toegang tot bekostigbare data het nie," sê Duma.

"As ons billike data kan bied, help dit ons ook om regstreeks met ons kliënte in verbinding te tree. Daar kan regstreekse kommunikasie wees en ons kan 'n beter verhouding met hulle bou."

Duma sê enige Suid-Afrikaner kan 'n Old Mutual Connect SIM-kaart aanskaf en sal selfs 1 gigagreep se data gratis ontvang as hulle aansluit.

Bykomende data wat gekoop word, sal ook nooit verval nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM