Tegnuus

DStv se nuwe goedkoop kyk is dalk duurder kyk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
DStv se Premium-stromingspakket is goedkoper, maar dit beteken nie jy gaan geld spaar nie.Foto: Verskaf
DStv se Premium-stromingspakket is goedkoper, maar dit beteken nie jy gaan geld spaar nie.Foto: Verskaf

DStv het die prys van sy Premium-stromingspakket tot 2014 se vlak verlaag en MultiChoice bied nou al sy kanale op die internet teen 'n maandelikse bedrag van R699 aan.

Dit kom neer op 'n besparing van R100 per maand.

DStv het verlede jaar die DStv Stream-produk bekend gestel, wat beteken jy kan die Premium-pakket, wat R929 per maand kos, geniet sonder dat jy 'n skottel en dekodeerder hoef aan te skaf.

Dit lyk na 'n aantreklike opsie, maar neem in ag dat jy waarskynlik vesel-internet gaan benodig. Weens die hoë koste is die mobiele breëbandinternet steeds nie 'n doeltreffende opsie vir stromingsdienste in Suid-Afrika nie.

Die intreevlak-pakket van vesel-internetverskaffers kos gemiddeld R450 per maand. As 'n mens dit byreken, bly die gewone satellietpakket die goedkoper opsie.

Daar is LTE-pakkette wat ietwat minder kos, maar dan moet jy seker wees jou selfoonsein is betroubaar.

DStv se prysverlaging val saam met aansienlike verbeteringe aan sy app, soos afsonderlike tuisblaaie vir kanaalkategorieë, onderskrifte wat beter inligting oor programme bied en nuwe beeldformate.

Voorlopige syfers, wat op 'n maand-tot-maand-grondslag saamgestel is, toon verbruikers se ervaring van die tegniese opknappings is positief. Daar is 'n styging van 23% in die getal reekse en flieks wat gestroom is en 'n 17%-toename in reekse wat verbruikers "spaar" om later te kyk.

Daar was 'n oorhoofse styging van 8% in die inhoud wat kykers gestroom het.

"Ons weet as ons ons klante tevrede wil hou, sal ons voortdurend ons beste moet lewer," sê Marc Jury, MultiChoice Suid-Afrika se uitvoerende hoof.

"Die jongste opdaterings op ons app is groot stap, veral vir kykers wat regstreekse sport geniet."

DStv gaan ook oor 'n paar weke nog verbeteringe aan die app aanbring wat spesifiek op sy bestendigheid fokus.

MultiChoice, wat DStv bedryf, het in Junie met die uitreik van sy voljaarresultate vir die boekjaar tot einde Maart onthul dat hy meer as 1,6 miljoen intekenare in daardie tydperk verloor het. Daarom skarrel hy om 'n alternatief te bied tot mededingers soos Netflix en Amazon Prime Video.

Showmax, MultiChoice se afsonderlike stromingsdiens, trek ook die prentjie skeef omdat baie meen dat hy ook regstreeks met DStv Stream meeding.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM