MTN se direksie het Vrydag aangekondig daar is geen bewyse om bewerings van onbehoorlike gedrag deur Ralph Mupita, die groep se uitvoerende hoof, te staaf nie.
Die ringkoppe van die vasteland se grootste selfoonnetwerk het vroeër 'n ondersoek deur 'n onafhanklike regsfirma van stapel gestuur nadat die Sunday Times verlede week berig het verskeie bestuurslede wil bedank weens Mupita se leierskap.
Dié individue het glo beweer daar is 'n gebrek aan aanspreeklikheid, terwyl voortrekkery gereeld plaasvind.
'n Fluitjieblaser het spesifiek 'n klag gelê oor Mupita se verhouding met 'n vroulike bestuursbeampte en dat sy glo voorkeurbehandeling deur hom ontvang het.
Mupita wou na bewering ook sekere kollegas verwyder en hul verantwoordelikhede aan dié vrou toevertrou.
Luidens Bloomberg het nege uitvoerende beamptes egter 'n memorandum onderteken waarin hulle hul ondersteuning vir Mupita bevestig.
'n Tiende lid het ook mettertyd dié memorandum onderskryf.
MTN se uitvoerende bestuurspan bestaan uit 15 individue.
Die direksie het op 'n buitengewone vergadering die verslag deur die regsfirma oorweeg, wat bevind het daar is geen bewyse teen Mupita nie.
"Die verslag het ook vermeld dat pogings om met die klaer in verbinding te tree, nie suksesvol was nie," lui 'n verklaring.
"Die direksie het die verslag se bevindings aanvaar en beskou die kwessie as afgehandel. Die direksie bevestig ook die groep se uitvoerende hoof geniet ons volle ondersteuning."
MTN het verlede maand 'n verlies ná belasting van R9,7 miljard in sy halfjaarresultate tot einde Junie aangekondig.
Dit is meestal deur Nigerië, waar MTN se bedrywighede aansienlik is, se swakker naira gedryf.
Mupita het egter gesê dit is geen rede tot kommer nie.
















