Tegnuus

Hier is SA se beste, swakste verskaffers van veselinternet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Veselkabels word in Ekurhuleni geïnstalleer. Foto ter illustrasie. Foto: Gallo
Veselkabels word in Ekurhuleni geïnstalleer. Foto ter illustrasie. Foto: Gallo

Slegs 'n paar dae nadat Vodacom deur die Mededingingstribunaal verbied is om 'n groot belang te bekom in Maziv, wat onder meer Vumatel besit, het die twee maatskappye verdere slegte nuus ontvang.

Luidens die Internetverskaffers-vereniging van Suid-Afrika (Ispa) se jongste peiling oor veselinternetverskaffers se klanttevredenheid, word dié twee reuse in die bedryf as die swakste diensleweraars beskou.

Vodacom en Vumatel beklee onderskeidelik die laaste en tweede laaste posisie op Ispa se ranglys vir veselinternetverskaffers wat deur meer as 10 gebruikers beoordeel is. Dark Fibre, wat ook deur Maziv besit word, is op nr. 7.

11 kategorieë, soos waarde, betroubaarheid en ondersteuning, word gemeet.

Suid-Afrika se grootste selfoonnetwerk het vir 'n tweede periode agtereenvolgens - Ispa se peiling word sesmaandeliks voltooi - as die swakste mededinger in die mark geëindig. Sy telling was 3,7 uit 10.

Vumatel, wat verreweg oor die grootste infrastruktuur vir veselinternet beskik, sal nie met sy telling van 4,7 tevrede wees nie.

Ispa sê egter, in die geheel, is Suid-Afrika se vernaamste veselinternetverskaffers stadigaan besig om hul sokkies op te trek.

"Daar was die afgelope tydperk van ses maande 'n oorhoofse verbetering in klanttevredenheid. Die tendens is belowend, maar die feit is dat daar nie 'n aansienlike styging in die oorhoofse trajek is nie. Dit moet spoediger begin plaasvind," sê Sasha Booth-Beharilal, Ispa-voorsitter.

Octotel, wat fokus op veselinternetverbindings vir Kaapstad, dra die kroon as Suid-Afrika se top-verskaffer met 'n telling van 7,1.

Dit het met 'n indrukwekkende ses persentasiepunte gestyg sedert Februarie se peiling.

Liquid Intelligent Technologies, wat spog met 'n netwerk wat oor 110 000 km se kabel strek, is naasbeste met 'n telling van 6,7.

Openserve, Telkom se veselinternetverskaffer, het ook aansienlik verbeter en is terug in die derde plek met 'n telling van 6,6.

Hy het ook die hoogste telling ontvang in terme van waarde vir geld vir gebruikers.

Sterk en swak punte

Luidens Ispa se peiling word betroubaarheid, tegniese vernuf en klantondersteuning as die veselinternetverskaffers se sterk punte uitgewys, maar sagtewarestelsels en bedryfsprosesse moet volgens klante nog verbeter.

Daar word al 'n geruime tyd onder gebruikers gekla dat hulle nie infrastruktuurprobleme, soos foute op 'n vesellynverbinding, deur 'n internetverskaffer se klantediens wil rapporteer nie.

Byvoorbeeld, Vumatel word nie regstreeks gekontak vir diensonderbrekings nie. Die betrokke gebruiker moet sy internetverskaffer, soos Mweb of Afrihost, kontak om 'n verwysing namens Vumatel te kry.

Daarom meen Ispa veselinternetverskaffers sal sy ondersteuning aan "gewone" internetverskaffers meer doeltreffend moet maak.

"Daar moet stelsels, prosedures en voldoende personeelkapasiteit wees om doodgewone foute op te los wat die eindgebruiker beïnvloed," sê Booth-Beharilal.

SA se 10 beste veselinternetverskaffers

1. Octotel 7.1

2. Liquid 6.7

3. Openserve 6.6

4. MetroFibre 6.5

5. Link Africa 6.2

6. Frogfoot 5.4

7. Dark Fibre 5.3

8. MTN 4.8

9. Vumatel 4.7

10. Vodacom 3.7

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM