Tegnuus

Is jou e-inkopie die nare of ware Jakob?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Takealot-oplaaisentrum in Midrand langs die N1-hoofweg. Foto: DEON RAATH
Die Takealot-oplaaisentrum in Midrand langs die N1-hoofweg. Foto: DEON RAATH

Die e-handelaar Take­alot bevind hom in die spervuur weens namaaksels van bekende produkte wat op die platform verkoop word.

Verskeie vervaardigers en verspreiders van tophandelsname waarsku klante wat hul inkopies aanlyn doen om seker te maak dat die produkte wat hulle ontvang die ware Jakob is.

Een so 'n klaer is Wayne la Grange van Blue Sky Distribution International, wat die verspreidingslisensie vir Afrika het vir die wimperserum Rapid Lash.

Hy het tot sy skok besef na­maak­­sels van sy produk is op Take­alot te koop aangebied. Volgens hom het die bedrieërs Takealot se keuringsproses, wat juis sulke skelmstreke moet verhinder, omseil.

La Grange sê Rapid Lash is 'n produk wat medies en oftalmologies goedgekeur is wat mense naby hul oë gebruik en hy is bekommerd dat die namaaksels mense skade kan berokken.

"Wat as die nagemaakte produk iemand se sig beskadig?"

Daar is ook die reputasieskade en finansiële verlies vir sy maatskappy, met meer as 200 skoonheidsalonne wat die produk gebruik.

Hy sê hy het in Januarie gehoor van iemand wat bekommerd was oor wat sy gedink het is Rapid Lash wat sy op Takealot gekoop het. Toe hy dié produk sien, was hy geskok: Die houer het 'n rooikleurige vloeistof bevat terwyl Rapid Lash 'n deursigtige serum is. Die vervaardigingsdatum wat op die verpakking aangedui is, het boonop nog in die toekoms gelê.

Carte Blanche, die ondersoekende TV-nuusprogram, het in Julie ook met 'n verbruiker gepraat wat 'n namaaksel van 'n teenverstikkingstoestel ontvang het, terwyl sy onder die indruk was sy het die ware Jakob op Take­alot gekoop.

La Grange sê kort nadat hy Take­alot oor die eerste geval ingelig het en die namaaksels verwyder is, hy dit weer op die platform raakgesien.

Wayne la Grange (links), uitvoerende hoof van Blue Sky Distribution International, saam met Rob Hunt (middel) en Terence Fillies, in hul verspreidingsentrum in Kaapstad.
Wayne la Grange (links), uitvoerende hoof van Blue Sky Distribution International, saam met Rob Hunt (middel) en Terence Fillies, in hul verspreidingsentrum in Kaapstad.

In reaksie op Rapport se navrae het Takealot gesê toe Rapid Lash die geval onder sy aandag gebring het, is die verkoper se detail aan La Grange bekend gemaak en hy het onderneem om saam te werk in enige strafregtelike ondersoek wat sou volg.

Takealot sê ook alle voornemende verkopers op sy platform moet gedetailleerde dokumente en inligting gee. Dit word geverifieer en die keuringsproses is ont­werp om moontlike bedrog of vals dokumente wat ingedien is, uit te wys.

In Takealot se eie ondersoeke waar nagemaakte goedere uitgewys is, is die produkte proaktief herroep en regsake aanhangig gemaak teen die individue verantwoordelik.

Takealot sê hy het die afgelope jaar meer as 100 verkopers se rekeninge gesluit omdat hulle nagemaakte produkte verkoop het.

In die seldsame gevalle waar dit wel deurglip, kan klante die produkte terugstuur en word ten volle vergoed. Enige verkoper wat vervalste goedere op bestaande produkinskrywings probeer verkoop, se rekeninge word ook onmiddellik opgeskort.

Dit lyk of die bedrieërs hul produkte as parallelle produkte aangee wat dan op Buy Box gelys word, wat soortgelyke produkte met hul vergelykende pryse en die vinnigste afleweringstyd wys sodat die verbruiker nie self al die vergelykings hoef op te soek nie. Dit blyk een van die probleme is dat bedrieërs wat nagemaakte produkte verkoop, Takealot 'n rat voor die oë gedraai het deur aan te dui hulle lys parallelle produkte.

Warrick Kernes, 'n e-handel-ghoeroe en uitvoerende direkteur van die Insaka-akademie, sê in die verlede kon aanlyn verkopers maklik 'n rekening skep en het dan platforms misbruik om namaaksels aan te bied. Jy kon net registreer en jou produkte na die pakhuis stuur.

Een van die ingewikkeldste kwessies vir enige e-handelplatform is om te keer dat 'n verkoper verkeerde produkte koppel met 'n bestaande produkinskrywing.

Hy sê Takealot het so 'n groot platform geword dat dit onmoontlik is om elke kartondoos oop te maak om te verseker die produkte is eg.

Omdat daar soveel verkopers is wat kanse probeer waag en platforms wil misbruik om namaaksels te bemark, is Takealot nou baie strenger. Hy sê al hoe meer verkopers kry versoeke van Takealot vir bewyse van hul verhouding met die verskaffer van 'n bepaalde, oorspronklike handelsnaam. Hulle moet bewys lewer­ van die ooreenkoms as herverkoper van die betrokke handelsnaam, iets wat nie voorheen die geval was nie.

Takealot sê een van die ingewikkeldste kwessies vir enige e-handelplatform is om te keer dat 'n verkoper verkeerde produkte koppel met 'n bestaande produkinskrywing.

"As dit gebeur, kry klante nie die produkte wat hulle bestel het nie en moet dit terugstuur. Dit kan ook mededingende verkopers by daardie gelyste produkte benadeel."

Takealot sê hy het letterlik miljoene produkinskrywings met meer as 12 000 verkopers wat aktief hul produkte op die platform verkoop.

Die meeste daarvan is klein en middelgrootte-, plaaslike ondernemings, "wie se groei vir Take­alot 'n prioriteit is".

• Suid-Afrika voer 'n stryd teen grysprodukte.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) raam onwettige handel kos die ekonomie jaarliks sowat R100 miljard. Dit sluit in onwettige mynboubedrywighede, handel in brandstof, sigarette en alkohol, en namaaksels wat op die mark verkoop word.

Die polisie voer gereeld klopjagte uit. In Junie het die polisie byvoorbeeld gedurende 'n operasie in die Johannesburgse middestad op meer as 7 000 grysprodukte ter waarde van R6,6 miljoen beslag gelê.

Verlede jaar is beslag gelê op namaaksels van R14 miljoen in twee operasies in Rustenburg -van klere en skoene tot juwele en parfuum.

Riana de Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM