Tegnuus

Jong dokter se app verkort wagtye in staatshospitale

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Toe Juandré Klopper as jong dokter ver­lede jaar eerstehands in staatsklinieke gesien het waar die stelsel hulle in die steek laat, het hy in sy spaartyd apps begin bou waarmee gesondheidswerkers die uitdagings kan aanpak.

Dr. Juandré Klopper, stigter en uitvoerende hoof van Sponsor Medic en Cape­ Med Tech wat mediese oplossings ontwikkel vir probleme wat hy in die staatsgesondheidsektor ervaar het tydens sy internjaar in 2023.
Dr. Juandré Klopper, stigter en uitvoerende hoof van Sponsor Medic en Cape­ Med Tech wat mediese oplossings ontwikkel vir probleme wat hy in die staatsgesondheidsektor ervaar het tydens sy internjaar in 2023.

Noodgedwonge het hy 'n sake­man geword en nou ontwikkel hy bekostigbare mediese toestelle wat lewens kan red in afgeleë en brandarm staatsklinieke.

Met die nuus vroeër vanjaar dat sowat 600 afgestudeerde dokters nie in die staat werk kan kry nie weens begrotingstekorte het Klopper (28) ook hiervoor 'n oplossing gevind.

Hy en twee vriende - dr. Matt Te Water Naudé en Freddie O'Donnell, 'n wiskundige - het Sponsor Medic, 'n organisasie sonder winsbejag, begin. Dit is 'n platform waarop dokters wat wil locum en staatsklinieke waar daar 'n tekort aan dokters is maar geen geld om locums te betaal nie, met mekaar in kontak gebring word. Die locum-agentskap stuur die rekening aan Sponsor Medic wat dit met skenkersgeld - van private donateurs of uit maatskappye se maatskaplike-verantwoordelikheidsbegroting - betaal sonder dat dit die staat 'n sent kos.

Sponsor Medic het onlangs 'n skenking van R500 000 ontvang waarmee drie dokters in staatshospitale in die Kaap geplaas is. Daar word gemeet hoeveel mense met elke rand gehelp word. Dit help ook dokters wat sukkel om werk te kry.

"Een van die dokters ry drie uur per dag na 'n staatshospitaal, maar is net so dankbaar vir die werk."

Klopper sê natuurlik help dit om kindersale in staatshospitale te verf, maar dié geld kan beter aangewend word om 'n verskil in staatspasiënte se lewe te maak.

In een van die hospitale waar hulle 'n dokter geplaas het, het die gemiddelde wagtyd per pasiënt op 'n gewone Saterdagaand van 17 uur tot sewe afgeneem.

Hulle het ook nou versoeke uit Tshwane gekry vir plasings van verpleegpersoneel en wil so gou moontlik vroedvroue in Khayelitsha plaas. Klopper het medies aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer en sy vrou, Cinaé, is ook 'n dokter.

Hy sê hy het in staatsklinieke ook die behoefte gesien aan bekostigbare toestelle wat 'n groot impak kan maak, lewens kan red en gesondheidswerkers in afgeleë gebiede kan help. Dit was die begin van Cape­ MedTech.

Waarom kos 'n toestel met 'n televisieskerm en kamera jou R40 000?

'n Prototipe van 'n draag­bare toestel vir intubasie ('n buis word deur die mond in die lugpyp ingevoer om die lugweg oop te hou) is nou by die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) vir goedkeuring.

Van die toestelle op die mark wat in talle private hospitale gebruik word, kos sowat R40 000 en dié geskik vir ambulanse sowat R8 000 stuk. Cape MedTech kan dit teen R800 verkoop.

"Waarom kos 'n toestel met 'n televisieskerm en kamera jou R40 000? Dit hoef nie. Daar is geen logiese rede daarvoor nie. Ons het rondgespeel met ontwerpe en vervaardigers en het nou 'n bekostigbare prototipe wat lewens kan red."

Volgens Klopper is dit ideaal vir gebruik in landelike gebiede, ambulanse en klinieke wat nie die duur toerusting kan bekostig nie. "Dit maak mos meer sin om iemand met kliniese agtergrond in die gesondheidstegnologie ruimte te hê, want dokters dink eerstens aan hoe om mense te help."

Nog 'n innoverende ontwikkeling, Enable, 'n app wat die funk­sio­na­li­teit van 'n behoorlike gehoorapparaat het wat volgens jou oudiogram deur jou slimfoon en selfoonoorstukke werk, sal binnekort ook vir goedkeuring by Sahpra ingedien word. Dít kom nadat Cape MedTech Donderdagaand in Johannesburg aangewys as een van die wenners in SAB se Disability Empowerment Awards en meer as R900 000 ontvang het.

Tot 32% van pasiënte se toestand word verkeerd beoordeel.

Vanjaar is 23 finaliste uit meer as 600 aansoekers gekies. Klopper, wat homself leer programmeer het omdat hy nie geld gehad het om iemand te betaal nie, het aanvanklik die Enable-oplossing ontwikkel nadat 'n doktersvriend in 'n kliniek gesê het baie bejaarde pasiënte sukkel met gehoorverlies, maar het nie geld om gehoortoestelle te koop nie.

"Dit was so erg dat hulle nie eens kon hoor wat die dokter vir hulle in die kliniek sê tensy hy skreeu nie. Jy kan mos nie in 'n besige kliniek iemand se mediese toestand uitskreeu nie."

Klopper het sewe apps ontwikkel, maar is veral trots op Triage Buddy, wat hy ontwikkel het om verpleegpersoneel te help om foute uit te skakel met die aanvanklike noodsorg-prioriteitsbepaling wanneer iemand by 'n hospitaal aankom.

Hy het gesien hoe sekere tekens misgekyk word wat mense hul lewe kan kos. Daar is ook studies wat wys tot 32% van pasiënte se toestand word verkeerd beoordeel en kry dan nie onmiddellik die korrekte noodbehandeling nie. Die app is op verpleegpersoneel se slimfone en gee 'n lysie van waarna om te kyk, soos byvoorbeeld in geval­le van brandwonde, met 'n algoritme wat dan die geval as ernstig of dringend klassifiseer.

Hy sê in Amerikaanse en ander oorsese maatskappye wat sulke programme beskikbaar het, werk dit dikwels met 'n re­kenaar. Tydens beurtkrag in staatsklinieke wat nie diesel het vir kragopwekkers nie is die ver­pleeg­sters dus uitgelewer. Of staats­klinieke het nie rekenaars nie - maar elke verpleegster het 'n slimfoon.

Ek sien die probleme en dan bou ek die oplossings. Nie andersom nie, want hulle wil dalk net hul produk of oplossing verkoop.

Hy het dit gratis gedoen en raad oor mediese toestelle vir sagtewaremaatskappye gegee, maar in September verlede jaar het sy broers, albei sakemanne, hom aangepor om dit in 'n onderneming te omskep.

"Ek sal nog hier en daar klinieke help met gratis sagteware, maar die maat­skap­py moet ontwikkeling en navorsing doen en uitbrei, en dit kan mens nie doen sonder geld nie."

Klopper het sommer dadelik op snuffelmarkte tweedehandse sakeboeke gekoop en begin leer oor konsepte soos "opbrengs op belegging en ander goed".

Hy het in 'n huis grootgeword waar harde werk 'n gegewe is. Sy pa, Nic, 'n entrepreneur en sagteware-ontwikkelaar, het hulle geleer om altyd te vra hoe benader mens 'n probleem om 'n oplossing te vind.

"Ek sien die probleme en dan bou ek die oplossings. Nie andersom nie, want hulle wil dalk net hul produk of oplossing verkoop."

Sy ondernemings hou hom so besig dat hy nie meer heeltyds praktiseer nie.

"Ek werk net saans as dokter om geld te maak om die besighede aan die gang te hou en nuwe tegnologie en toestelle te kan ontwikkel. Ek verdien nou minder as toe ek 'n intern was."

Riana de Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM