Tegnuus

Kontanthonger SAUK lek lippe af vir R100 m. se BTW-geld

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die SAUK het tydens ’n parlementêre komiteesitting versoek dat TV-lisensies van BTW vrygeskeld word. Foto: Mary-Ann Palmer
Die SAUK het tydens ’n parlementêre komiteesitting versoek dat TV-lisensies van BTW vrygeskeld word. Foto: Mary-Ann Palmer

Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) wil vra dat TV-lisensies van belasting op toegevoegde waarde (BTW) vrygestel word as oplossing vir die finansiële verknorsing waarin hy hom bevind.

Deur dan die pryse van TV-lisensies dieselfde te hou en die orige bedrag wat jaarliks vir BTW sou gaan self as inkomste te neem, sal die uitsaaier jaarliks sowat R100 miljoen as pleister op sy benarde finansiële situasie kan plak.

Dié versoek is op 16 Julie deur Nomsa Chabeli, die uitsaaikorporasie se uitvoerende hoof, op 'n gesamentlike komiteevergadering van die parlementêre komitee oor kommunikasie en digitale tegnologie en die staande komitee oor begrotings gerig.

Op die vergadering is daar verduidelik dat die SAUK se kommersiële inkomste, wat hoofsaaklik danksy advertensies sowat 83% van sy inkomste uitmaak, onder druk is weens stromingsdienste en ander digitale mededinging wat dit nog belangriker maak om die reeds klein regeringsbydrae (4%) en mislukte TV-lisensiestelsel (13%) te pak.

In sy jaarverslag dui die uitsaaier aan dat sowat 86% van mense wat TV-lisensies moet betaal dit ontduik ten spyte daarvan dat die lisensiegeld sedert 2012 onveranderd gebly het. Dit kos 'n volle 40% van die inkomste wat wel deur TV-lisensies ingewin word om hierdie einste lisensiegeld in te vorder.

As die SAUK se versoek dat TV-lisensies BTW-vry word suksesvol is, sal die koste van TV-lisensies dieselfde bly en kan die uitsaaier jaarliks R100 miljoen as bykomende inkomste invorder. Foto: SAUK
As die SAUK se versoek dat TV-lisensies BTW-vry word suksesvol is, sal die koste van TV-lisensies dieselfde bly en kan die uitsaaier jaarliks R100 miljoen as bykomende inkomste invorder. Foto: SAUK

Die SAUK het al herhaaldelik gevra vir veranderinge aan sy "onvolhoubare" en "verouderde" finansieringsmodel, wat dit afhanklik gemaak het van winste uit sy kommersiële bedrywighede. Daar is beklemtoon dat die BTW-vrystelling net 'n korttermynkontantinspuiting sal wees en dat daar steeds aan breër hervormings in sy finansiering gewerk moet word.

Die SAUK sal die ekstra R100 miljoen per jaar kan gebruik as bydrae tot sy jaarlikse uitgawe van R2,3 miljard om sy openbare mandaat te kan uitvoer.

Verder het die SAUK 'n beduidende hoeveelheid historiese skuld aan Sentech, sy verskaffer van digitale infrastruktuur en platformdienste, wat al gedreig het om die uitsaaier se senders af te skakel as hy nie betaal nie, sê Chabeli.

Sy het in die voorlegging ook genoem dat die SAUK sowat R900 miljoen benodig vir opknappings aan sy infrastruktuur en 'n verdere R700 miljoen om kameras te vervang en redigeringskamers te moderniseer.

Nomsa Chabeli, uitvoerende hoof van die SAUK. Foto: SAUK
Nomsa Chabeli, uitvoerende hoof van die SAUK. Foto: SAUK

Tesourie weet nie van BTW-plan

Voordat die BTW-plan in werking kan tree, moet die nasionale tesourie die aansoek goedkeur en 'n wysiging aan die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde maak. Dié wysiging sal dan aan parlementêre goedkeuring onderhewig wees.

Die nasionale tesourie het by navraag aan Netwerk24 gesê daar is 'n formele proses waar belastingvoorstelle van belastingbetalers jaarliks in November gevra en oorweeg word. Alle belastingvoorstelle van belastingbetalers word dan geëvalueer en aanbevelings word aan die minister van finansies gedoen, wat dan besluit of so 'n voorstel ingesluit en in die jaarlikse Februarie-begroting aangekondig moet word.

"In dié stadium het ons geen voorstel van die SAUK ontvang of oorweeg rakende die moontlike BTW-nulkoers van TV-lisensiegeld nie," sê 'n woordvoerder van die nasionale tesourie.

"Die nasionale tesourie sal egter die voorstel ondersoek sodra dit ontvang word."

- karla.vandermerwe@media24.com

• Karla van der Merwe is 'n Netwerk24-beursjoernalis.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM