Tegnuus

Meta: Feitekontroleerders bly vir eers in SA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto ter illustrasie.  Foto: Getty
Foto ter illustrasie. Foto: Getty

Die sosialemedia-reus Meta, eienaar van Facebook, Instagram en WhatsApp, gaan nie onmiddellik veranderinge aan derdeparty-feitekontrolering by sy bedrywighede buite Amerika maak nie.

Dit sal dus in Suid-Afrika vir eers voortgaan soos tans, het 'n Meta-woordvoerder aan News24 gesê.

Dit volg op die aankondiging verlede week deur Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Meta, dat weggedoen word met feitekontrolering in Amerika om groter vryheid van spraak te bevorder.

Die veranderinge geld Facebook, Instagram en Threads, wat meer as 3 miljard daaglikse gebruikers het.

Voordat enige veranderings in Suid-Afrika aangebring word, sal Meta eers sy verpligtinge in Suid-Afrika hersien om te kyk of veranderings nodig is, het die woordvoerder laat blyk.

In Suid-Afrika gebruik Meta twee instellings om feite te kontroleer - Africa Check en die Franse nuusdiens AFP se afdeling wat feite kontroleer.

Groot tegnologiegroepe soos Meta en Google ervaar toenemend kritiek van tradisionele mediagroepe en nuusdienste weens die manier waarop verspreiders van fopnuus, haatspraak, diskriminasie en samesweringsteorieë hul platforms misbruik, dikwels ook ten koste van die winsgewendheid van die tradisionele nuusplatforms.

In 'n onlangse nuusbrief van die Internasionale Sentrum vir Joernaliste waarsku Laura Zommer, medestigter en hoof van Factchequeado, 'n firma wat feite kontroleer, dat fopnuus en waninligting juis geneig is om vinniger te versprei in tye van onsekerheid en verandering, soos tans.

Sy haal aan uit 'n verslag in 2020 deur feitekontroleerders dat individue en organisasies hul uitsprake behoort te rugsteun met bewyse en hul feite moet regkry. Feitekontroleerders help die publiek om sin te maak van bewyse wat mense of entiteite gee vir hul bewerings deur dit op te som en 'n beoordeling te gee oor die gewig van die bewyse.

"Dit verg 'n versigtige balans tussen om uitgesproke te wees oor onsekerheid en nuanse waar dit bestaan, terwyl ons ook duidelik is oor waar ons glo die bewyse wys na 'n spesifieke rigting."

Die vryheid om te sê waarom iets nie waar is nie, is ook vryheid van spraak.

—  International Fact-Checking Network

'n Internasionale organisasie wat feitekontroleerders verteenwoordig, die International Fact-Checking Network (IFCN), het verlede week in 'n ope brief aan Zuckerberg hom herinner aan hul waarskuwing aan hom in 2016 oor die werklike skade wat deur vals inligting op Facebook aangerig word. Dit was in reaksie op IFCN se waarskuwing daaroor "dat Meta 'n feitekontroleringsprogram begin het wat miljoene gebruikers teen samesweringsteorieë en bedrogspulle beskerm het".

In die ope brief betreur die IFCN die besluit van Meta om nou dié program in Amerika te staak. "Die vryheid om te sê waarom iets nie waar is nie, is ook vryheid van spraak."

Die IFCN het veral skerp gereageer op Zuckerberg se opmerking in sy aankondiging verlede week dat feitekontroleerders "te polities bevooroordeeld geword het en meer vertroue vernietig het as wat hulle geskep het, veral in Amerika".

Volgens die IFCN is dit nie waar nie, want Meta het juis vereistes oor onpartydigheid vir alle vennote ingestel wat hom feite help kontroleer.

Volgens die IFCN is dit Meta se eie personeel wat besluit hoe inhoud wat deur feitekontroleerders as vals uitgewys is, gemerk of hanteer word. Die feitekontroleerders het nooit die vermoë of gesag gehad om inhoud of gebruikerrekeninge te verwyder nie, sê die IFCN in die ope brief.

Die organisasie meen Zuckerberg se plan om 'n program vir gemeenskapskennisgewings in te stel soos dié by die mededinger X van Elon Musk, sal nie tot 'n positiewer gebruiker-ervaring lei nie.

Die IFCN meen Meta se besluit om in Amerika weg te doen met sy derdeparty-feitekontrolering is 'n terugwaartse stap.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM