Gebruikers van Microsoft Windows in verskeie wêrelddele, en ook in Suid-Afrika, het Vrydagoggend met blou skerms wakker geword.
Probleme is ook deur gebruikers in Amerika, Indië, Japan, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland aangemeld.
The Telegraph berig televisiekanale, lughawens en banke van oor die wêreld heen is van lyn af in wat bestempel word as 'n "massiewe onderbreking".
Sky News kon nie sy ontbytprogram uitsaai nie en lugdienste in verskeie lande het passasiers gewaarsku om vroeër op te daag.
Maatskappye in Suid-Afrika, wat banke insluit, word luidens berigte ook geraak.
Die probleem het glo te doen met die kubersekerheid-sagtewarefirma Crowdstrike, wat deur Microsoft gebruik word.
Microsoft het bevestig verskeie van sy produkte, soos 365 en Teams, word geraak.
Volgens die webtuiste downdetector.co.za word die probleem veral in Kaapstad, Gqeberha en Johannesburg ervaar.
Media24 in Johannesburg en Kaapstad word ook geraak.















