Tegnuus

Microsoft meen EU moet skuld kry vir CrowdStrike-drama

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die kuberveiligheidsmaatskappy CrowdStrike bly steeds in die spervuur oor verlede week se IT-onderbreking. Foto: Getty
Die kuberveiligheidsmaatskappy CrowdStrike bly steeds in die spervuur oor verlede week se IT-onderbreking. Foto: Getty

Microsoft het besluit om teen die stroom te swem en meen die Europese Unie (EU) moet die skuld kry vir verlede week se CrowdStrike-fiasko.

Bykans 8,5 miljoen rekenaars wat die sagtewarereus se Windows-bedryfstelsel gebruik, is verlam deur 'n gebrekkige opdatering van CrowdStrike se sagteware om kuberkrakers uit te hou en word as die mees omvattende IT-onderbreking in die geskiedenis beskou.

Tog glo Microsoft dit was 'n ooreenkoms wat hy reeds in 2009 gedwonge met die EU moes aangaan wat op die ou end tot die drama gelei het.

Luidens daardie skikking moes Microsoft vir Windows spesifiek aanpas om verskeie ander kuberveiligheidsmaatskappye se antivirus-sagteware toe te laat om op die bedryfstelsel op sogenaamde kernvlak geïnstalleer te word, berig The Wall Street Journal(WSJ).

Dit beteken doodeenvoudig dat daardie antivirus-sagteware deel is van die Windows-bedryfstelsel en toegang het tot alle prosesse in daardie stelsel.

Dit is nie soos sagteware wat bykomend aangekoop en aangewend word volgens 'n verbruiker se eie voorkeure nie.

Microsoft moes dié ooreenkoms aangaan om 'n EU-ondersoek te verhoed oor of hy mededingingsreëls binne die streek oortree.

'n Microsoft-woordvoerder het aan WSJ bevestig sy bedryfstelsel het steeds sy eie ingeboude antivirus-sagteware, Windows Defender, maar kan dit nie eksklusief aanwend, soos Apple, sy groot mededinger, nie.

LEES OOK |CrowdStrike-fiasko: Als wat nou reeds bekend is

Apple het in 2020 aangekondig hy sal nie kernvlak-toegang tot buitepartye se antivirus-sagteware bied nie omdat dit sy bedryfstelsel op dié manier veiliger maak, berig Euronews.

Die maatskappy is wel nou ook in die EU se soeklig.

Die EU gebruik nou sy wet op digitale markte om Apple te dwing om toegang tot sy iPhone-modelle te gee om derde partye se apps op sy app-platform te laat verhandel.

Die EU meen Microsoft en Apple oortree sy mededingingswette.

Intussen berig Bloomberg dat George Kurtz, CrowdStrike se uitvoerende hoof, voor die Amerikaanse huis van verteenwoordigers se komitee oor binnelandse sekuriteit moet verskyn.

"Binne 'n dag het ons eerstehands die aansienlike impak gesien (wat die onderbreking) op die wêreldekonomie gehad het," skryf Mark Green, die voorsitter van die komitee, in sy brief aan Kurtz.

CrowdStrike het bevestig die maatskappy is in kontak met die komiteelede, wat oor die magte beskik om getuienis af te dwing, maar verkies om getuies eers te vra om vrywillig voor hulle te verskyn.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM