Volgens die jongste ontleding van die gehalte van selfoonnetwerke se sein oor die land heen, is MTN verreweg die wenner.
MyBroadband se jongste verslag van die derde kwartaal oor selfoonnetwerke se gehalte en diensverskaffing is Dinsdag uitgereik, met omvattende resultate wat uit sowel die platteland as metro's kom.
Luidens die verslag, wat fokus op seindekking, -gehalte en die spoed van mobiele internetdienste, hetsy deur 4G of 5G, is MTN byna in elke kategorie geheel en al die wenner.
So lyk die algehele prestasie van die verskeie selfoonnetwerke:
• MTN: 10 uit 10
• Vodacom: 8,24
• Cell C: 7,03
• Telkom: 4,51
• Rain: 4,01
MyBroadband meet die gehalte van selfoonnetwerke se sein en internetspoed deur van sy eie personeel gebruik te maak om deur die land te ry en met verskeie selfone metings te neem, asook deur vrywilligers in wydverspreide dele van die land vir aanvullende data in te span.
Die gewigte van die drie metings wat hy doen, is aflaaispoed (60%), oplaaispoed (20%) en die latentheid van data-verbindings (20%).
So vergelyk die selfoonnetwerke se gemiddelde aflaaispoed:
• MTN: 106,22 Mb/s
• Vodacom: 94,07 Mb/s
• Cell C: 68,12 Mb/s
• Telkom: 39,72 Mb/s
• Rain: 23,14 Mb/s
Die een maatstaf waar MTN nié koning kraai nie, is die gemiddelde gehalte van sy 5G-sein, waar Vodacom hom geklop het.
















