Tegnuus

MultiChoice bloei, maar rugby en kykNET bly

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

MultiChoice het die afgelope ses maande nóg 1,8 miljoen DStv-intekenare verloor, maar klou vas aan eksklusiewe sport-TV-regte soos rugby, asook unieke plaaslike inhoud soos op kykNET.

Showmax met 'n nuwe baadjie en die hoop op 'n suksesvolle oorname deur Canal+ is ook onder die planne om volgende jaar te oorleef in sy oorlewingstryd teen Netflix.

Calvo Mawela, MultiChoice-groephoof.
Calvo Mawela, MultiChoice-groephoof.

Die betaaltelevisie-reus se finansiële resultate vir die ses maande tot einde September, wat die afgelope week bekend gemaak is, is 'n bloedbad.

Intussen het kykNET die afgelope Vrydag dié Afrikaanse kanaal se 25ste bestaansjaar gevier.

Op 'n jaargrondslag het MultiChoice 'n verdere 10,6% van sy totale intekenare verloor, waarvan 400 000 in Suid-Afrika.

Die totale getal intekenare het gedaal van 16 703 000 tot 14 935 000 in wat die maatskappy as sy "mees uitdagende bedryfstoestande in byna 40 jaar" op die vasteland beskryf.

In Suid-Afrika het MultiChoice se DStv-intekenare met 5% gedaal van 7,8 tot 7,4 miljoen en met 15% op die res van die vasteland.

MultiChoice sukkel erg elders in Afrika - veral in Nigerië en Zambië. Daar bring wisselkoerse en verswakkende plaaslike geldeenhede, sowel as uitdagende plaaslike ekonomiese toestande, mee dat verbruikers nie meer vir DStv wil betaal met dit wat van hul karige besteebare inkomste oor is nie.

MultiChoice se inkomste het met 11% gedaal tot R24,8 miljard, en verliese het verder toegeneem - hoofsaaklik weens miljarde wat aan die maak van nuwe inhoud vir die stroomdiens Showmax bestee word - terwyl die maatskappy in 'n selfs dieper tegniese insolvensie weggesink het.

Ons het die meeste van ons groot sport-TV-regte heronderhandel en behou.

Sy bedryfswins het met 49% gedaal tot R2,5 miljard, met MultiChoice wat 'n verlies van R1,8 miljard aangeteken het.

Die sogenaamde Showmax 2.0 - wat vroeër vanjaar opgedollie is in vennootskap met Amerika se Comcast om 'n verbeterde stroomdiens met beter inhoud vir Afrika te skep - het 'n 50%-toename in intekenare getoon. MultiChoice ding fel mee met Netflix in Afrika.

Die toename in intekenare kom egter ook met 'n bedryfs­verlies op 'n jaargrondslag wat van R799 miljoen tot R2,4 miljard gegroei het.

Showmax se inkomste het van R704 miljoen tot R469 miljoen gedaal.

Die maatskappy sê dat die TV-bedryf wêreldwyd deur "uitdagings weens stroomkyk, die groei van kortvorm-video op sosiale media, sowel as veranderende verbruikervoorkeure" in die gesig gestaar word.

"Die drukpunte neem toe in MultiChoice se kernmark - Suid-Afrika - terwyl verskeie makro- en ander verbruiker-rukwinde in die maatskappy se bedrywighede in die res van Afrika groei in liniêre TV en stroomkyk beperk."

Intussen vry MultiChoice na die Franse Vivendi SE se Canal+ wat dié betaal-TV-diens sien as sy groot uitkoms om teen die aanslag van nuwe-era-stroomdienste soos Netflix kop bo water te hou.

Calvo Mawela, MultiChoice-groephoof, sê as Canal+ se oorkooptransaksie deurgaan, sal dit MultiChoice in staat stel om doeltreffender mee te ding teen internasionale stroomdiensreuse soos onder meer Netflix, Amazon Prime Video en Disney+.

Dié stroomdienste met hul byna onbeperkte geldpotte begin nou ook sportregte opraap en van tradisionele betaal-TV wegrokkel in Amerika, Europa, Brittanje en Australasië.

MultiChoice is egter vasbeslote om met 'n kombinasie van eksklusiewe sportregte-kontrakte wat dikwels jare vooruit beklink word, asook plaaslike gehalte-inhoud soos kykNET en die nuwe Showmax, die oorlog teen Netflix en ander stroomkanale te wen.

"Op al ons kritieke sportkontrakte teken ons tipies multi-jaar-kontrakte," het Tim Jacobs, MultiChoice se geldbaas, aan Rapport gesê.

"Weens die risiko oor die afgelope ruk van sommige van hierdie internasionale stroomdienste - soos Netflix, Amazon en Disney, wat massiewe balansstate het - het ons baie takties te werk gegaan wanneer ons sportkontrakte heronderhandel, sowel as die duur van hierdie kontrakte.

"Ons het die meeste van ons groot sport-TV-regte heronderhandel en behou, en behou dit vir verskeie jare die toekoms in. Op van die grootste en duurste regte soos sokker kon ons selfs laer pryse beding.

"Dit beteken nie daar is geen risiko dat een van die groot stroomspelers kan inkom en ons kan oorbie nie. Ons is realisties oor die moontlikheid," het Jacobs gesê.

Amazon het egter die maak van alle plaaslike vermaakinhoud oor Afrika heen gestaak. Netflix het onlangs opgehou om verdere Afrika-produksies te maak.

"As jy voel jy het nie genoeg intekenare om die maak van sulke plaaslike vermaakinhoud vir jou stroomdiens te regverdig nie, is die kans baie goed dat jy as 'n stroomdiens ook nie vir sport­regte gaan probeer nie," het Jacobs verduidelik.

"Dis nie onmoontlik nie, maar dis een area van ons besigheid waarop ons baie gefokus is en waar ons seker maak dat ons die regte kry en behou."

Jacobs sê MultiChoice se voortgesette kostebeparings gaan nie gebeur ten koste van kykstof waarvan DStv- en Showmax-kykers die meeste hou nie.

"Kostebesparing sal nie kom ten koste van kernkykstof wat DStv en Showmax vir intekenare waardevol maak nie."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM