Tegnuus

Musk is ‘g’n lus om TikTok te koop’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Elon Musk sê hy gebruik self nie TikTok nie, is nie vertroud met die app se formaat nie en hy wil dit ook nie koop nie. Foto: Getty
Elon Musk sê hy gebruik self nie TikTok nie, is nie vertroud met die app se formaat nie en hy wil dit ook nie koop nie. Foto: Getty

Terwyl die tyd vir die Amerikaanse regering al hoe minder word om 'n langtermynoplossing vir sy probleme met TikTok te vind, het Elon Musk bekend gemaak dat hy nie daarin belangstel om dié video-app te koop nie.

Dit het gekom 'n week nadat pres. Donald Trump gesê het hy is daarvoor ontvanklik dat Musk, sy raadgewer wat die nuwe administrasie se poging lei om koste in die staatsdiens te besnoei, die app koop.

'n Wet wat in April aanvaar is, vereis dat TikTok se Chinese eienaar, ByteDance, TikTok se Amerikaanse bates aan 'n nie-Chinese koper verkoop of andersins verbied word weens kommer oor nasionale veiligheid.

LEES OOK | Trump en kie maak planne om TikTok in Amerika aanlyn te hou

Nadat die app vir 14 uur in Amerika verbied is toe die wet in werking getree het, het Trump op 19 Januarie 'n uitvoerende bevel onderteken wat probeer het om die afdwinging van die verbod op die app te vertraag. Dié bevel is vir 90 dae geldig.

Musk verkies nuut

Musk sê hy gebruik self nie die app nie en is nie vertroud met sy formaat nie.

"Ek het nie 'n bod vir TikTok ingedien nie. Ek het geen planne vir wat ek sou doen as ek TikTok gehad het nie," sê Musk.

"Ek is nie lus om TikTok te koop nie, ek koop in die algemeen nie maatskappye nie, dit is nogal skaars."

Dit was self vir hom buitengewoon toe hy die sosialemediaplatform Twitter, nou bekend as X, gekoop het en hy verkies dit om maatskappye self te bou.

"Ek bou gewoonlik maatskappye van nuuts af," sê Musk.

Bang die Chinese neem data

Wetgewers is bekommerd dat die app probleme rakende nasionale veiligheid inhou omdat China die maatskappy kan verplig om die data van sy Amerikaanse gebruikers te deel.

TikTok sê hy het nog nooit en sal ook nie Amerikaanse gebruikers se data deel nie.

In Amerika kan TikTok nie meer op selfone en ander toestelle afgelaai word nie, maar indien dit reeds voor 19 Januarie afgelaai is, kan dit steeds gebruik word.

Die app het sowat 170 miljoen Amerikaanse gebruikers.

TikTok-koper

Trump sê hy het met verskeie mense in gesprek getree oor die aankoop van TikTok en sou waarskynlik vandeesmaand 'n besluit oor die toekoms van die app neem.

Trump het verlede week 'n uitvoerende bevel onderteken om vanjaar 'n soewereine welvaartfonds te skep en sê dit kan dalk TikTok koop.

Trump, wat nou TikTok wil red, verteenwoordig 'n ommekeer in sy houding in sy eerste ampstermyn, toe hy onsuksesvol probeer het om die app te verbied weens kommer dat die maatskappy Amerikaners se persoonlike inligting met die Chinese regering deel.

Meer onlangs het Trump gesê "ek het 'n warm plek in my hart vir TikTok" en erken dat die app hom gehelp het om jong kiesers in die-presidentsverkiesing in 2024 na sy kant oor te wen. - Reuters

- stefani.terblanche@media24.com

https://www.reuters.com/markets/deals/billionaire-musk-says-not-interested-acquiring-tiktok-2025-02-08/

Stefani Terblanche en Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM