Tegnuus

Nederlandse beleggers pols Prosus oor ‘moonshot’-beloning

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Fabricio Bloisi, wat Bob van Dijk opvolg as uitvoerende hoof van Naspers en Prosus, praat in Kaapstad oor sy werk en lewe. Foto: Jaco Marais
Fabricio Bloisi, wat Bob van Dijk opvolg as uitvoerende hoof van Naspers en Prosus, praat in Kaapstad oor sy werk en lewe. Foto: Jaco Marais

Verteenwoordigers van Nederlandse institusionele beleggers is nie ingenome met wat hulle beskou as 'n hoogs buitensporige aansporing vir die nuwe uitvoerende hoof van Prosus nie.

'n Paar verteenwoordigers van Nederlandse pensioenfondse en ander institusionele beleggers het die direksie van Prosus, die internasionale e-handelafdeling van die internetreus Naspers, Woensdag gepeper met vrae oor die voorgestelde vergoeding aan Fabricio Bloisi, nuwe uitvoerende hoof van Prosus en Naspers.

Prosus se jaarvergadering is Woensdagmiddag in Amsterdam gehou.

Dit gaan oor die sogenaamde "moonshot award", 'n bedrag van $100 miljoen (R1,79 miljard teen die heersende wisselkoers) wat Bloisi sal ontvang as hy oor 'n periode van vier jaar dit kan regkry om Prosus se markwaarde te verdubbel.

Die beleggers meen dis 'n ongekende tendens in die Nederlandse konteks, en 'n soortgelyke beloning wat Universal Music verlede jaar voorgestel het, is ook deur beleggers afgeskiet.

Die Nederlandse beleggers is veral besorg oor die belang in die Chinese internetreus Tencent wat Prosus besit. As Tencent se waarde byvoorbeeld verdriedubbel, sal Prosus se waarde dienooreenkomstig styg, sonder dat die Prosus-bestuur 'n vinger hoef te verroer het.

Craig Enenstein, voorsitter van Prosus se vergoedingskomitee, het die jaarvergadering egter verseker dat Bloisi se vergoedingspakket en aansporings só saamgestel is dat hy 'n aansporing het om die winsgewendheid en waarde van Prosus se e-handelportefeulje van internasionale maatskappye te laat groei.

Bloisi se basiese salaris sal $750 000 (nagenoeg R13,4 miljoen) per jaar wees, en tesame met 'n prestasiebonus en aandeelregte kom die "moonshot award" ook by. Enenstein het beklemtoon die toekenning sal nie betaal word as die verdubbelde markwaarde van Prosus nie nog 12 maande daarna gehandhaaf word nie.

Die pakket wys die vertroue wat die Prosus-direksie in Bloisi se leierskap het, het Enenstein gesê. Die aandeelregte sal ook slegs realiseer as spesifieke teikens gehaal word.

Mylpaal van winsgewendheid

Prosus se groot mylpaal vanjaar is dat die groep se totale nie-Tencent-bates winsgewendheid bereik het, het Koos Bekker, voorsitter van Prosus, gesê.

Prosus se direksie het voorgestel dat 'n dividend van 10 eurosent per aandeel verklaar word, wat 'n 43%-styging is, en in huidige randwaarde sowat R2 per aandeel beloop.

Bloisi het wel in 'n videoboodskap wat by die jaarvergadering gespeel is, gesê ondanks die winsgewendheid en 'n groeikoers wat beter is as mededingers, is die interne opbrengskoers van die groep nie voldoende nie, en moes moeilike besluite geneem word.

Mededingers geklop

Basil Sgourdos, uittredende finansiële hoof van Prosus, het gesê die groep se groei was 12% beter as dié van genoteerde mededingers. Volgens hom is die gekonsolideerde winsgewendheid van die e-handelbedrywighede ses maande vroeër behaal as wat die bestuur aanvanklik belowe het.

Volgens Sgourdos het Prosus se aandeelterugkoopprogram sedert Junie 2022 reeds $32 miljard (R573 miljard) se waarde geskep en die verskil tussen die netto batewaarde en aandeelprys verder laat krimp.

Tencent-belang

Op 'n vraag oor waarom Prosus steeds 'n konglomeraat is en nie bloot al sy ander bedrywighede verkoop en 'n beheermaatskappy word wat 'n groot belang in Tencent hou nie, het Bekker gesê al vyf die waardevolste maatskappye in die wêreld - insluitend Apple en Amazon - is konglomerate.

Die vraesteller wou weet of die Tencent-belang nie 'n verskuilde vervloeking is omdat dit die Prosus-bestuur selftevrede kan maak nie. Bloisi het geantwoord dit moet beslis nie 'n vervloeking genoem word nie.

Volgens hom is daar geen selftevredenheid in die Prosus-groep nie, en is daar 'n sterk ywer om gedurig innoverend en vernuwend op te tree.

Volgens hom het Prosus die afgelope kwartaal meer geld gemaak as in die afgelope jaar, maar hy kan nie nou spesifieke syfers bekend maak nie.

Enenstein het bygevoeg dat die Prosus-bestuur glad nie aanvaar dat hulle op die rug van iemand anders se sukses wil ry nie.

Bob van Dijk

Daar was ook vrae oor die vergoeding van Bob van Dijk, vorige uitvoerende hoof van Prosus. Volgens Enestein het Van Dijk in September verlede jaar bedank, maar hy tree nog tot September vanjaar as konsultant vir die groep op, waarvoor hy $113 000 (R2 miljoen) per maand kry.

Oor die kritiek dat Prosus se vergoedingsbeleid ongekend en buitensporig is vir 'n Nederlandse maatskappy, het Enenstein gesê Prosus is nie Nederlands of Suid-Afrikaans nie, maar internasionaal, en hy ding in die internasionale e-handelsmark mee en moet talent werf uit 'n internasionale poel wat baie duur is.

Die "moonshot award" is volgens hom wel ruim, maar vergeleke met soorgelyke pakkette by ander maatskappye is dit eintlik matig. Dit pas egter aan by die omvang van die werk wat gedoen moet word om die teiken van 'n verdubbeling van markwaarde in vier jaar te kan behaal.

Volgens Bekker beteken die teiken dat Bloisi oor vier jaar dieselfde waarde moet skep as die markwaarde van Philips en Heineken tesame.

"Geen Nederlandse maatskappy gaan dit doen nie. Ons ding nie in die Nederlandse mark mee nie. Tegnologie word meestal geskep in lande soos Amerika, China, Japan en Korea."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM