Tegnuus

Nuttig in omgewingsbewaring, infrastruktuur uit lug gemonitor

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Operateur kry ’n hommeltuig gereed wat die Bedreigde Wildlewe-Trust (EWT) gebruik vir omgewingsbewaringsdoeleindes. Foto: EWT
’n Operateur kry ’n hommeltuig gereed wat die Bedreigde Wildlewe-Trust (EWT) gebruik vir omgewingsbewaringsdoeleindes. Foto: EWT

Hommeltuie in omgewingsbewaring word onder meer gebruik om suidelike noorkapper-walvisse te monitor, te bepaal waar indringerplante uitgeroei moet word en om toestelle aan lewendige kraglyne te heg om voëls weg te keer.

Lourens Leeuwner, senior bewaringsbestuurder van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT), sê hommeltuie met termiese sensors word ook suksesvol gebruik om wild te tel in digbegroeide gebiede.

Volgens Leeuwner maak hommeltuie dit vir natuur- en omgewingsbewaarders in Suider-Afrika moontlik om opnames te doen wat voorheen te duur was.

" 'n Bekostigbare oog in die lug bied ook moniterings- en opmetingsgeleenthede soos wildtellings, inspeksie van infrastruktuur en hulp om wildstropery te beveg."

Hommeltuie se grootste voordeel in die veiligheidsbedryf is dat dit vinnig ontplooi kan word, oombliklik data oordra en groot areas kan dek, sê Heico Kühn, bedryfshoof van UDS - UAV & Drone Solutions.

Dit verbeter tradisionele sekuriteitsmetodes, insluitend grens- of omheiningsbeheer, monitering by konserte en groot geleenthede, skarebeheer en noodoptrede.

Volgens Kühn het die gebruik van hommeltuie in die private veiligheidsektor in Suid-Afrika aansienlik toegeneem nadat die Burgerlugvaartowerheid in 2015 die eerste kommersiële hommeltuig-vlieëniersertifikate uitgereik het.

Hy sê die meeste van die kommersiële hommeltuie in die land word vir veiligheid en toesig gebruik, in veral die mynbedryf.

"Myne sukkel baie met onwettige mynbedrywighede en mynpersele het gewoonlik toerusting waar daar koper, staal en diesel is wat diewe wil hê. Hulle gebruik hommeltuie om heinings te monitor, en as reaksie-instrument wat verdagtes vanuit die lug volg en só grondpersoneel help om die oortreders op te spoor."

Kühn sê staatsbeheerde entiteite span ook gereeld hommeltuie in om spoor- en pypleiding-infrastruktuur en ander bates te beskerm wat deur koperdiewe en misdaadsindikate geteiken word.

Riana de Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM