'n Kunsmatige-intelligensie (KI)-kletsbot wat jy kan verpersoonlik, gaan dalk binnekort op jou vingerpunte beskikbaar wees.
Volgens WABetaInfo, 'n webwerf wat slegs op WhatsApp en sy ontwikkeling fokus, is WhatsApp besig om persoonlike KI-kletsbotte vir sy gebruikers te ontwikkel.
Dis reeds gedeeltelik 'n funksie op Instagram, wat saam met WhatsApp en Facebook deel van Meta vorm, se webwerf.
Deur die skeppingsproses van die kletsbot direk in die app te integreer, mik WhatsApp om KI-skepping vir alle gebruikers toeganklik te maak, ongeag hul tegniese vaardighede.
WABetaInfo sê gebruikers sal die geleentheid hê om hul KI-karakter in detail te beskryf, te spesifiseer wat die KI se werk of fokus is en wat dit uniek maak. Die kletsbot kan byvoorbeeld fokus op produktiwiteit, vermaak of net hulp bied.
WhatsApp beplan ook om voorstelle van kletsbotte in te sluit wat reeds gemaak is om te verseker dat gebruikers wat nie vertroud is met die KI-ontwerp nie, steeds kan deelneem.
Nie net sal die proses KI vir die gebruiker makliker maak om te gebruik nie, maar dit sal WhatsApp ook help om te sien wat gebruikers se verwagtinge van KI is.
Dis belangrik om kennis te neem daarvan dat die kletsbot steeds ontwikkel word en daar geen aanduiding is van wanneer en of dit aan die publiek bekend gestel gaan word nie.

Vertalingsfunksie
Nog 'n funksie wat volgens WABetaInfo ontwikkel word, is die opsie om boodskappe in ander tale te vertaal na die taal van jou WhatsApp-profiel. Die funksie is reeds op Instagram en Facebook beskikbaar.
Funksies wat volgens WhatsApp se blog vanjaar geïmplimenteer gaan word, is om filters en effekte op jou foto's te plaas wanneer jy dit op WhatsApp se kamera neem en vinnig plakkers van jou selfies op die app te maak. Nog 'n nuwe funksie is om twee keer vinnig op 'n boodskap te druk om 'n emoji te laat verskyn, in plaas daarvan om jou vinger op die boodskap te hou.
- stefani.terblanche@media24.com
• Stefani Terblanche is 'n Netwerk24-beursjoernalis.




















