Verdere konsolidasie in die sektor vir veselinternetdienste is op pad nadat die Mededingingskommissie die oorname van RSAWeb deur die eienaars van MetroFibre en Octotel goedgekeur het.
Die kommissie het die oorname sonder enige voorwaardes goedgekeur.
RSAWeb is 'n internetdiensverskaffer wat veselinternetdienste aan huishoudings en ondernemings bied. Hy verskaf ook wolkinfrastruktuur, en help ondernemings met hul internettoegang en data vir mobiele kommunikasie.
Die eienaars van MetroFibre en Octotel staan bekend as Tario 892. MetroFibre is 'n veselnetwerkoperateur en 'n internetdiensverskaffer wat veselinfrastruktuur in vyf provinsies van die land bied. Onder sy kliënte tel ander internetdiensverskaffers, herverkopers, klein, mikro- en middelslagondernemings, asook huishoudings.
Octotel bedryf op sy beurt 'n ooptoegang-veselnetwerk in die stedelike gebiede in Kaapstad en ander gebiede van die Wes-Kaap. Octotel bou veselnetwerke en hou dit ook in stand en verhuur dit.
Volgens die Mededingingskommissie sal die voorgestelde transaksie nie mededinging in enige mark wesenlik verhinder of verminder nie.
Octotel is einde verlede jaar aangewys as die beste veselinternetdiensverskaffer in 'n peiling deur die Internetverskaffersvereniging (Ispa) van Suid-Afrika.
Octotel het die beste telling van 7,1 uit 10 ontvang, wat 'n styging van ses persentasiepunte is sedert 'n peiling in Februarie verlede jaar. MetroFibre was vierde op die lys met 'n telling van 6,5.
RSAWeb spog op sy webwerf dat hy die beste internetdiensverskaffer in Suid-Afrika is gegrond op meer as 18 000 resensies op Google.
Die Mededingingstribunaal het verlede jaar die poging van Vodacom verbied om 'n belang te bekom in Maziv, wat Vumatel besit.






















