Tegnuus

Prosus bestee $1,7 mjd. aan aanlyn reisagentskap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Fabricio Bloisi, aangewese nuwe uitvoerende hoof van Naspers en Prosus.  Foto: Prosus
Fabricio Bloisi, aangewese nuwe uitvoerende hoof van Naspers en Prosus. Foto: Prosus

Prosus het sy voorneme aangekondig om Despegar, Suid-Amerika se grootste aanlyn reisagentskap, vir $1,7 miljard te koop.

Die transaksie is ’n 33%-premie op Despegar se huidige aandeelprys. Dit sal Prosus se teenwoordigheid in die streek aansienlik uitbrei.

In ’n verklaring sê Prosus hy wil met die verkryging sy e-handel- en finansiëletegnologie-dienste versterk met Despegar se bekende handelsnaam en tegnologiese kundigheid.

Die verkryging beloof om kliënte-ervarings te verbeter deur middel van platforms soos die kosafleweringsfirma iFood.

“Die oorname is ’n duidelike bewys van ons strategie om waarde toe te voeg deur ’n hoë-gehalte-ekostelsel van aanvullende ondernemings te skep,” sê Fabricio Bloisi, uitvoerende hoof van Prosus, in die verklaring.

“Despegar is ’n hoogs winsgewende maatskappy, met ’n aantreklike markposisie en ’n ervare bestuurspan, wat dus heeltemal strook as ’n waardevolle toevoeging tot ons teenwoordigheid in Latyns-Amerika.

“Ons sal Despegar se groei versnel deur die uitgebreide kliënte-interaksiepunte binne ons portefeulje te gebruik, tesame met ons bedryfskundigheid en gevorderde vermoëns in kunsmatige intelligensie,” sê Bloisi.

Damián Scokin, uitvoerende hoof van Despegar, sê die transaksie “verteenwoordig beduidende waarde vir ons aandeelhouers, en ek is oortuig dat Prosus die ideale vennoot is om ons volgende fase van groei aan te dryf.

“Vir ons kliënte beteken dit toegang tot ’n uitgebreide portefeulje van dienste, beter ervarings, groter lojaliteitsvoordele, en vollediger oplossings wat by hul behoeftes pas.”

Despegar se markposisie

Despegar het in 2024 $5,6 miljard in besprekings en $761 miljoen in inkomste aangeteken. Die maatskappy bied omvattende reisprodukte in 20 lande aan.

Ekonomiese groei in Suid-Amerika is gemiddeld baie hoog in die huidige internasionale ekonomiese omstandighede.

Na verwagting sal die oorname in 2025 afgehandel word.

• Prosus is die Europees genoteerde “kloon” van Naspers, met die uitsondering van enkele Suid-Afrikaanse belange. Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM