Tegnuus

SA se digitale ekonomie kan binne dekade R91,4 mjd. werd wees – Naspers

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Takealot se verspreidingsentrum in Kaapstad. (Foto: Jaco Marais)
Takealot se verspreidingsentrum in Kaapstad. (Foto: Jaco Marais)

Die digitale ekonomie kan in 2035 R91,4 miljard werd wees en 1,38% van die bruto binnelandse produk (BBP) verteenwoordig.

Dis teenoor net R5 miljard en 0,02% in 2022.

Dié mylpaal kan vinniger bereik word indien ekonomiese groei tot meer as 3% per jaar versnel word. Rompslomp, 'n gebrek aan infrastruktuur en 'n tekort aan mense met tegniese vaardighede moet ook dringend opgelos word.

Dis onder die bevindings in Our Digital Horizon, 'n navorsingsverslag wat Naspers en die Mapungubwe Institute for Strategic Reflection (Mistra) Dinsdag uitgereik het. Daarvolgens het digitale ondernemings die potensiaal om Suid-Afrika se ekonomie te omskep, met die idee dat agtergeblewe gebiede vinnig kan groei indien digitale struikelblokke uit die pad gerol word.

Luidens die verslag is daar 'n agterstand met digitale transformasie in die land. 80% van huishoudings het nog nie breëbandinternet by die huis nie en net 10% van huishoudings is tuis met optiesevesel- of vaste draadlose internet toegerus.

Die meerderheid Suid-Afrikaners het wel toegang tot die internet deur slimfone. In Januarie 2023 was die aantal mobiele verbindings in Suid-Afrika 187,4% van die bevolking (wat wys mense het meer as een toestel wat aan die internet verbind is).

Die koste van data is egter 'n struikelblok. 'n Gigagreep (GB) data kos in Suid-Afrika gemiddeld R33,21, van die hoogste ter wêreld.

Teen 2025 kan die digitale ekonomie tot 340 000 nuwe poste skep, maar te min Suid-Afrikaners studeer wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde - net 18% van gegradueerdes teenoor meer as 30% in lande bekend vir hul innovasie, soos Indië, Suid-Korea en die Verenigde Arabiese Emirate.

As die ekonomie konsekwent teen 3% per jaar groei, sal dit 'n 20-voudige uitbreiding van digitale platforms moontlik maak, luidens die verslag.

Naspers sê sy Suid-Afrikaanse filiale, insluitend Takealot, Mr D, Superbalist, AutoTrader, Property24 en PayU, het al oor tyd R13 miljard se ekonomiese waarde geskep. Daar word geraam dat dit die koste vir groot- en kleinhandelaars met 0,5% verlaag het en lewenskoste met 0,6%.

Phuthi Mahanyele-Dabengwa, uitvoerende hoof van Naspers Suid-Afrika, sê die verslag kom op 'n waterskeidingsoomblik in die land. "Daar is 'n hernude gevoel van energie en verbintenis onder verskeie spelers om ons land op die pad na inklusiewe groei en gedeelde welvaart te plaas.

Phuthi Mahanyele-Dabengwa, uitvoerende hoof van Naspers Suid-Afrika.
Phuthi Mahanyele-Dabengwa, uitvoerende hoof van Naspers Suid-Afrika.

"Suid-Afrika staan op die punt van 'n digitale revolusie. Hoewel nog in die vroeë fases, weerspieël die skuif na digitale platforms wêreldneigings. Dit bied 'n unieke geleentheid om beduidende ekonomiese waarde vir ons nasie te ontsluit."

Mahanyele-Dabengwa sê samewerking is die sleutel om die potensiaal te ontsluit. "Die openbare en private sektor moet kragte saamsnoer om die digitale kloof te oorbrug deur digitale toegang uit te brei, digitale vaardighede aan onderbediende gemeenskappe te versnel, en te verseker regulasies vuur innovasie aan en skep 'n eweredige speelveld. Deur dit te doen, sal ons verseker geen individu of gemeenskap word agtergelaat nie."

Luidens die verslag word die digitale revolusie in lande soos Kenia en Nigerië deur klein ondernemings aangedryf.

Naspers sê daar word te min in finansiële en gesondheidstegnologie belê.

Rompslomp is 'n groot probleem. Dit kan tot nege maande, oftewel 180 werkdae, duur voordat sekere goedkeurings van owerhede verkry is, "wat tydige toegang tot digitale infrastruktuur en dienste kniehalter".

Joel Netshitenzhe, besturende direkteur van Mistra, sê daar is enorme geleenthede, maar ook groot struikelblokke wat keer dat die samelewing die potensiaal van die digitale ekonomie ontsluit.

"Die belowende sentrale boodskap van die verslag is dat oplossings binne bereik is, maar dit sal dringende samewerking en dapper optrede van alle belanghebbendes vereis."

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM