Een van Suid-Afrika se grootste uitdagings met toekomstige kragopwekking en -voorsiening gaan nie, byvoorbeeld, die oprig van nuwe fabrieke of aanlegte wees nie.
Dit sal eerder die datasentrums wees wat daardie maatskappye se digitale stelsels en kunsmatige intelligensie (KI) hanteer wat elektrisiteit gulsig gaan sluk.
Dan Mashigo, Eskom se hoof van primêre energie, het verlede week op 'n konferensie oor energiehervorming in Johannesburg pertinent uitgelig dat die volgende fase van die land se industrialisering glad nie gaan lyk soos vorige tydperke nie.
"Ek verstaan hoekom almal tans fokus op Eskom se bestendigheid. As ons 'n energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) van 70% op mediumtermyn kan handhaaf, dan laat dit die ekonomie toe om gemaklik met 3% tot 4% te groei," sê hy.
"Maar ons kan nie net konsentreer op 'n bestendige EBF om slegs aan die huidige vraag na krag te voldoen nie. Ons moet beplan vir verdere industrialisering, en as jy industrialiseer, dan benodig jy krag.
"Ons het ongetwyfeld die digitale tydperk betree en dit behels die bou en onderhoud van nuwe datasentrums. In 'n land soos China is datasentrums reeds van die grootste kragverbruikers in daardie land.
"In Suid-Afrika gaan ons ook mettertyd nuwe basislading moet skep vir digitale infrastruktuur."
Dit is inderdaad nie kinderspeletjies nie.
Luidens Schroders, 'n batebestuurder en raadgewingsdiens, het datasentrums se vraag na elektrisiteit tussen 2012 en 2023 teen 'n saamgestelde koers van 14% op 'n jaarlikse grondslag gegroei.
Dit is aansienlik meer as die 2,5% groei in die oorhoofse vraag na elektrisiteit wêreldwyd.
"Baie van daardie groei, is afkomstig van 'n toename in datasentrums se data-opwekking en ontleding, asook die skuif na wolkrekenaars, waar maatskappye hul databewaring na afsonderlike persele skuif," sê Mannat Chopra en Alex Monk, onderskeidelik 'n ekwiteitsontleder en portefeuljebestuurder by Schroders.
"KI gaan datasentrums se vraag na krag dramaties laat toeneem. Wanneer KI-modelle in 'n opleidingsfase is, waar dit ramings en besluite maak gegrond op die data wat ingevoer word, gebruik dit ses keer meer energie as nie-KI-rekenaarverwerking.
"In KI-modelle se ‘gevolgtrekkingsfase', waar die modelle gevolgtrekkings maak uit nuwe data en navrae wat ingevoer word, gebruik dit twee tot drie keer meer energie."
SemiAnalysis, 'n navorsingsfirma, beraam kritieke IT-kragkapasiteit wêreldwyd gaan van 49 000 MW in 2023 tot 96 000 MW in 2026 groei.
Dit is juis waarom reuse soos Amazon teen 2025 slegs hernubare krag vir sy bedrywighede wil gebruik.
Google wil teen 2030 koolstofvry wees.
Suid-Afrika (en die res van die vasteland) kan nie bekostig om agter te bly nie.
PwC meen KI kan teen 2030 tot $15 000 miljard tot die wêreldekonomie toevoeg, maar die lande wat die meeste gaan baat, is China en Amerika omdat hul digitale infrastruktuur in plek is.
Afrika gaan nie daardie vrugte pluk nie weens 'n gebrek daaraan.
Suid-Afrika, wat luidens CloudScene 68 datasentrums huisves, het verreweg die meeste op die vasteland en tog gaan dit nie voldoende bly nie.
As nuwe sentrums opgerig gaan word, gaan kragopwekking moet bybly.
Dit is makliker gesê as gedaan.
Chopra en Monk sê hernubare bronne soos son- en windkrag is te wisselvallig om datasentrums op sy eie te bedien, veral gegewe hoe duur en ondoeltreffend batterye steeds is om so 'n aansienlike hoeveelheid krag te stoor.
'n Moontlike oplossing is om kragaankopeooreenkomste aan te gaan.
Africa Data Centres, wat verlede week nog 6 MW se storingskapasiteit by sy CPT1-sentrum in Kaapstad bygevoeg het, is een van die plaaslike groot kanonne wat reeds voorsiening hiervoor maak.
In Maart 2023 het hy 'n kragaankopeooreenkoms van 20 jaar met Distributed Power Africa aangegaan.
Dit behels die oprig van 'n 12 MW-sonkragplaas in die Vrystaat wat in die eerste fase van die ooreenkoms 'n gedeelte van die CPT1-sentrum se krag gaan verskaf.
In die tweede fase sal dit krag aan die maatskappy se datasentrums in Gauteng bied.
























