Tegnuus

Sake op die web? Nee wat, ons ‘surf’ net vir die lekker

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Suid-Afrikaners gebruik die internet meestal vir sosiale aktiwiteite en vermaak. Minder as 33% van ons gebruik dit vir aktiwiteite wat ekonomiese voordele inhou, soos aanlyn werk, opleiding of toegang tot regeringsdienste.

Amper 60% van kleiner ondernemings gebruik boonop glad nie die internet vir sakedoeleindes nie.

Joel Netshitenzhe, uitvoerende direkteur van Mistra. Foto: Ntokozo Moya
Joel Netshitenzhe, uitvoerende direkteur van Mistra. Foto: Ntokozo Moya

Solly Malatsi, die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, het die afgelope week by die bekendstelling van nuwe navorsing oor die digitale ekonomie in Suid-Afrika gesê dis duidelik die land se internetgebruik is taamlik oppervlakkig en bied baie ruimte vir groei. Die navorsing deur Naspers en die Mapungubwe Institute for Strategic Reflection (Mistra), is die eerste studie van sy soort wat 'n omvattende prentjie gee van die impak van Suid-Afrika se digitale-platform­ekonomie, en die groei- en transformasie-potensiaal daarvan.

Die verslag raam Suid-Afrika se e-handelmark is sowat $6 miljard werd, wat net meer as 6% van die totale kleinhandelmark is. Dit het tussen 11 miljoen en 18 miljoen gebruikers. Vervoerdienste soos Uber en Bolt in Suid-Afrika word op $350 miljoen waardeer en kan in die volgende paar jaar teen 2,9% per jaar groei soos vraag na gerieflike vervoeroplossings toeneem.

Die land se fintech-bedryf se inkomste kan vanjaar $434 miljoen bereik soos digitale betalings, bates en nuwe maniere van banksake doen ontwikkel. Shamiela Letsoalo, die direkteur van media­betrekkinge by Naspers, het gesê die navorsing toon die digitale-platform-sektor kan teen 2035 meer as R91 miljard tot die ekonomie bydra en sy aandeel van 'n skamele 0,02% in 2022 tot 1,4% verhoog.

'n Verslag van Disrupt Africa oor finansiering van beginner- tegnologie-ondernemings toon Suid-Afrika het meer as 600 aktiewe digitale platforms.

Dit strek oor verskeie sektore, met die meeste in e-handel, vervoer en verblyf.

Malatsi het gesê die groei­potensiaal is duidelik uit Research ICT Africa se 2022-verslag oor tendense in internetgebruik in Suid-Afrika waarvolgens 59% van mikro-ondernemings nie die internet op enige manier in hul onderneming gebruik nie.

Phuthi Mahanyele-Dabengwa, uitvoerende hoof van Naspers Suid-Afrika, by die bekendstelling van die navorsingsverslag oor die stand van die digitale ekonomie in Suid-Afrika. Foto: Ntokozo Moya
Phuthi Mahanyele-Dabengwa, uitvoerende hoof van Naspers Suid-Afrika, by die bekendstelling van die navorsingsverslag oor die stand van die digitale ekonomie in Suid-Afrika. Foto: Ntokozo Moya

Phuthi Mahanyele-Dabengwa, die uitvoerende hoof van Naspers Suid-Afrika, het gesê baie ondernemings en verbruikers is steeds nie verbind met die digitale ekonomie nie. Die algemene huishoudelike opname toon 80% van huishoudings het nie toegang tot breëband-internet nie, wat hulle weerhou van deelname of groter deelname aan die digitale ekonomie.

Letsoalo het gesê die navorsing wys die vraag na STEM­gegradueerdes (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) styg vinnig. In Suid-Afrika is net 18% van gegradueerdes in dié veld betrokke, teenoor meer as 30% in lande soos Indië, die Verenigde Arabiese Emirate en Suid-Korea wat as innovasie­leiers in die wêreld beskou word.

Die koste van data en elektroniese toestelle kan die groei in die digitale ekonomie knou.

Parks Tau, die minister van handel, nywerheid en mededinging, het gesê om potensiële belegging in die digitale ekonomie te lok wat ook werk sal skep, sal die Nasionale Vaardigheidsfonds 'n model bekend stel vir die ontwikkeling van vaardighede wat in aanvraag is vir die digitale ekonomie.

Dus sal R800 miljoen oor die volgende paar jaar beskikbaar wees om werklose jong mense in digitale vaardighede op te lei. Hy het ook aangekondig Take­alot se inisiatief saam met die Gautengse regering betreffende die township-ekonomie gaan na ander provinsies uitgebrei word. Die mikpunt is om teen 2028 20 000 poste in Gauteng te skep.

Die koste van data en elektroniese toestelle kan ook die groei in die digitale ekonomie knou, het verskeie sprekers gesê. Luidens die verslag is die gemiddelde koste van 1GB mobiele data in Suid-Afrika sowat R33,21, wat duurder is as lande soos Nigerië, Namibië en Kenia.

Malatsi het gesê die algemene huishoudelike opname wys die meeste Suid-Afrikaners gebruik selfoontegnologie vir internettoegang. Daarom moet data goedkoper wees, asook slim­fone en skootrekenaars.

"Toegang tot 'n slimtoestel is in vandag se lewe nie meer 'n luukse nie. Dis 'n basiese mensereg vir vooruitgang."

Riana de Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM