Tegnuus

Skep nou jou eie KI-podsendings – in Afrikaans

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Google se oudiofunksie maak dit vir gebruikers maklik om podsendings in Afrikaans vanaf dokumente of notas te skep.  Foto: Getty
Google se oudiofunksie maak dit vir gebruikers maklik om podsendings in Afrikaans vanaf dokumente of notas te skep. Foto: Getty

Google se NotebookLM-diens, wat dokumente in podsendingstyl-gesprekke kan omskep, is nou in meer as 50 tale beskikbaar - insluitend Afrikaans.

NotebookLM is 'n kunsmatige intelligensie (KI)-gedrewe leerassistent wat ontwerp is om gebruikers te help om komplekse inligting beter te verstaan.

Dit werk deur antwoorde te baseer op die gebruiker se eie materiaal, soos lesingnotas, PDF-dokumente, navorsingsverslae of webinhoud.

Gebruikers kon reeds met die KI-kletsbot Gemini vrae vra en opsommings genereer, maar nou is daar 'n nuwe funksie wat dit moontlik maak om die dokumente in 'n podsendingstyl te verander.

Dit is 'n hulpmiddel vir mense wat beter leer deur te luister of wat inligting wil inneem terwyl hulle besig is met ander take. Dit kan ook nuttig wees vir onderwysers en leerlinge.

Luidens 'n verklaring van die hoof van bemarking by Google Africa, kan taal steeds 'n hindernis vir leer wees, asook digitale toegang. Deur Afrikaans en Swahili by dié KI-diens te voeg, skep Google 'n meer inklusiewe omgewing waar mense van alle ouderdomme makliker toegang tot KI kan kry.

"In Afrika, waar leer dikwels oor verskeie tale heen plaasvind, kan hierdie opdatering 'n wesentlike verskil maak," sê Nanjala Misiko, hoof van produkbemarking by Google Africa.

"Of dit nou 'n student is wat notas in Swahili hersien of 'n onderwyser wat opsommings in Afrikaans voorberei, ons is opgewonde daaroor om meer mense te help om inligting te verstaan op 'n manier wat werklik vir hulle werk."

Die verklaring sê sedert die bekendstelling van die oudiofunksie verlede jaar, was die terugvoer van leerlinge en onderwysers oorweldigend positief. Hulle is veral beïndruk met hoe hierdie funksie inligting boeiend maak.

Nuwe moontlikhede vir Suid-Afrikaners

Misiko sê dit kan verskeie nuwe moontlikhede vir Afrikaanse gebruikers ontsluit:

• Studente kan studiemateriaal in Engels oplaai, maar die opsommings in Afrikaans luister.

• Navorsers kan komplekse dokumente in hul moedertaal vertaal en verstaanbaar maak.

• Entrepreneurs kan sakeplanne en marknavorsing in Afrikaans ontleed.

• Onderwysers kan lesingmateriaal meer toeganklik vir Afrikaanssprekende leerlinge maak.

• Smaakmakers kan idees in Afrikaans omskep en ontwikkel.

- stefani.terblanche@media24.com

Saamgestel deur Stefani Terblanche

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM