Tegnuus

Starlink: Dís wat Elon Musk se SpaceX oor SEB sê

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Elon Musk, stigter van SpaceX, wat die Starlink-satellietstelsel bedryf. Foto: Getty
Elon Musk, stigter van SpaceX, wat die Starlink-satellietstelsel bedryf. Foto: Getty

Bemagtiging deur internetkonnektiwiteit kan behaal word sonder om ondernemings met wetgewing te kniehalter, sê SpaceX.

SpaceX, wat deur Elon Musk besit word en die Starlink-satellietstelsel bedryf, sê die Suid-Afrikaanse vereiste dat maatskappye wat kommunikasiedienste direk aan eindgebruikers verskaf, minstens 30% deur histories benadeelde groepe besit moet word, is 'n groot probleem vir die sakesektor.

Suid-Afrika is een van talle Afrikalande waar Starlink nog nie aan die nodige regulatoriese vereistes voldoen nie.

Internetverskaffers in Suid-Afrika moet onder meer by die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okasa) om 'n lisensie aansoek doen en moet aan vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) voldoen.

Probleme vir beleggers

Okasa het maatskappye van Augustus tot November verlede jaar die geleentheid gegee om kommentaar te lewer op sy nuwe voorgestelde lisensieraamwerk vir satellietdienste.

Brandi Oliver, SpaceX se globale lisensiëring- en markbestuurder, het op die sluitingsdatum van 12 November hul kommentaar oor die nuwe raamwerk ingedien en kommer oor die 30%-vereistes uitgespreek.

"Baie buitelandse satellietoperateurs, veral dié met sakemodelle wat regstreeks op verbruikers fokus, het egter wêreldwye beleid wat plaaslike aandeelhouding verhoed, en sodoende hulle uitsluit van die Suid-Afrikaanse mark."

SpaceX stel voor dat Okasa eerder die lisensie- en eienaarskapregulasies in pas bring met die IKT-kode van SEB, wat ekwiteitsekwivalente programme erken as 'n alternatief vir plaaslike aandeelhouding.

Só kan Okasa 'n beduidende hindernis vir buitelandse satellietoperateurs verwyder.

"Dit sal nie net buitelandse belegging in Suid-Afrika verhoog nie, maar sal ook breër bedryfsvoordele skep, innovasie, mededinging en langtermyngroei ondersteun."

Goed vir Suid-Afrikaners

SpaceX sê in sy verslag dat sy satelliete Okasa sal kan help om vir meer mense in landelike gebiede toegang tot konnektiwiteit te gee, iets wat opsigself bemagtigend is.

Solly Malatsi, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, het op 'n konferensie in Oktober verlede jaar gesê: "Om vir miljoene Suid-Afrikaners toegang tot breëbandtegnologie te gee, sal een van die grootste bemagtigingsprogramme uitmaak wat die Suid-Afrikaanse regering tot op hede aangepak het."

Malatsi het ook voorgestel dat SEB-wette verslap word, maar die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie en digitale tegnologie het Donderdag uitgevaar teen enige idee dat wette vir Musk pasgemaak sal word.

LEES OOK | Starlink: SEB-wette ‘kan nie in middel van spel verander vir Musk nie'

Okasa se reaksie

Okasa hou volgende week 'n openbare sitting in Centurion in Gauteng waarop belanghebbendes verdere kommentaar kan lewer.

SpaceX, Meta en Amazon is onder 31 organisasies wat voorleggings gaan doen.

- stefani.terblanche@media24.com

• Stefani Terblanche is 'n Netwerk24-beursjoernalis.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM