Tegnuus

Starlink: NSRI gretig om dit vir seeredding te gebruik

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Reddingsboot van die Nasionale Seereddingsinstituut.
’n Reddingsboot van die Nasionale Seereddingsinstituut. (Foto: NSRI)

Starlink, die satelliet-internetdiens wat deur Elon Musk se SpaceX besit word, glo die moontlike toetrede daarvan tot die Suid-Afrikaanse mark sal nie bloot mededinging in die bedryf versterk nie, maar ook mense se lewe red.

Op die Internetdiensverskaffersvereniging (Ispa) se jaarvergadering Dinsdag is weer benadruk dat veral die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gretig is vir Starlink om ’n plaaslike bedryfslisensie van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) te bekom omdat hy die tegnologie vir reddingsoperasies kan aanwend, verneem Netwerk24 betroubaar.

Betroubare diens op oopsee

Ryan Goodnight, senior direkteur van internasionale lisensiëring en markaktivering by SpaceX, het in ’n kort voorlegging aan Ispa-lede gesê een van Starlink se groot mededingende voordele is dat hy baie betroubare breëbandinternetdienste teen ’n billike prys op die oopsee kan bied.

Starlink se tegnologie was al by verskeie reddingsoperasies wêreldwyd betrokke en bied reeds op sy webwerf ’n nooddiens aan huishoudelike gebruikers.

Die NSRI het verlede jaar al aangedui hy sou graag sy bote met Starlink wou toerus, veral omdat dit kan help met reddingspogings weens talle kleiner bote wat jaarliks langs die Suid-Afrikaanse kus omslaan.

Goodnight sê ook die ondersteuning wat Starlink se infrastruktuur tydens natuurrampe kan bied, is wesenlik en hy het spesifiek verwys na vroeër vanjaar se vloede in die Oos-Kaap. Hy meen geraakte huishoudings sou makliker in verbinding met mekaar kon tree en ook reddingspogings kon vergemaklik.

Starlink het juis tydens die onlangse aardbewing in Tonga toe die meerderheid van die klein eiland se internetinfrastruktuur verlam was weens die beskadiging van ondersese kabels, die netwerk vinniger as verwag laat herstel omdat die diens nie op kabels staatmaak nie.

Sage oor lisensie woed voort

Goodnight het ook aan Ispa-lede die versekering gegee dat Starlink “slaggereed” is om te voldoen aan Suid-Afrika se swartbemagtigingswetgewing en sal R2,5 miljard bestee om ’n drievoudige B-BEE-graderingsvlak te behaal.

Starlink sal ook saam met plaaslike netwerkoperateurs en internetdiensverskaffers werk, juis omdat hy meen dit bied aan die maatskappy die maklikste manier om insigte oor die plaaslike mark te bekom.

Die meeste Suid-Afrikaners kry hul toegang tot die internet via hul selfoon, wat beteken vennootskappe met selfoonoperateurs is belangrik.

Die grootste haakplek vir Starlink se teenwoordigheid in Suid-Afrika bly egter die staat se vereiste dat hy ’n belang van 30% aan histories benadeelde groepe moet gee om ’n bedryfslisensie te bekom.

Starlink meen dié vereiste is nie in pas met die Wet op Elektroniese Kommunikasie nie, veral omdat dit slegs verband hou met mobiele-netwerk-operateurs en -uitsaaiers.

Die maatskappy hou vol dis nie van toepassing op die aard van sy sakemodel nie.

Solly Malatsi, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, het reeds vroeër vanjaar konsepregulasies vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer om dié wetgewing aan te pas. Maar die proses sloer, al het pres. Cyril Ramaphosa al sy ondersteuning daarvoor uitgespreek.

– heinz.schenk@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM