Tegnuus

Vodacom se belegging van R12,2 mjd. in Vuma in die pylvak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die transaksie tussen Vodacom en Maziv kan internettoegang ontsluit vir tot ’n miljoen ekstra huishoudings. Foto: Getty Images
Die transaksie tussen Vodacom en Maziv kan internettoegang ontsluit vir tot ’n miljoen ekstra huishoudings. Foto: Getty Images

Die mededingingsappèlhof sit Dinsdag om te besluit oor die hersiene transaksie tussen Vodacom en sy veselinternet-mededinger Maziv.

Al het die Mededingingskommissie nou ingestem om nie meer die transaksie teen te staan nie, moet die hof steeds sit om daaroor te beslis.

Die Mededingingstribunaal het in Oktober verlede jaar die transaksie verbied, waarna Maziv en Vodacom by die mededingingsappèlhof aansoek gedoen het om te appelleer.

'n Ooreenkoms oor die hersiene voorwaardes vir die transaksie is intussen tussen die Mededingingskommissie en die twee partye in die transaksie bereik.

Pieter Uys, voorsitter van Community Investment Ventures Holdings (CIVH) wat via Maziv die veselinternetmaatskappye Vumatel en Dark Fibre Africa besit, het Maandag gesê na gelang van wanneer die hof sy besluit bekend maak, kan die transaksie teen einde November vanjaar afgehandel wees. Dit kan 'n week duur vir die hof om te besluit, of dis dalk eers oor agt weke.

Dit behels dat Vodacom 'n 30%-belang in Maziv koop van CIVH. Die beleggingsgroep Remgro besit tans 57% van CIVH.

Vodacom het 'n opsie om teen einde Maart volgende jaar sy belang in Maziv tot 34,5% te vergroot. Dan sal CIVH se belang in Maziv van 70% tot 65% verklein, en Remgro se belang in CIVH sal op sy beurt tot 53,7% verklein.

Uys en Carel Vosloo, Remgro se hoof van beleggingsaktiwiteite, het Maandagoggend op 'n aanlyn konferensie met beleggers dié ingewikkelde reeks transaksies probeer verduidelik.

Die Mededingingskommissie was aanvanklik besorg dat die transaksie mededinging in die veselinternetbedryf sou verminder. In reaksie op sy kommer het albei partye beloof om aansienlik meer in die bedryf te investeer.

Volgens Uys gaan Maziv oor die volgende vyf tot ses jaar sowat R12 miljard investeer.

1 miljoen nuwe veselinternet-konneksies

Die mikpunt is volgens Uys om oor die volgende paar jaar aan 1 miljoen bykomende huishoudings toegang tot veselinternet te bied. Dit is in gebiede soos Soweto, Alexandra, Khayelitsha en Mitchells Plain en nie Sandton nie, het hy beklemtoon.

Waar die onderneming se veselinternet-infrastruktuur binne 'n paar meter van openbare skole, biblioteke en klinieke loop, sal dié plekke van veselinternet voorsien word. Vodacom gaan ook die getal polisiekantore uitbrei wat hy Wi-Fi-toegang sal gee.

Die kommissie was bekommerd dat Vodacom en Maziv se veselinternetdekking van 160 000 huise te veel sal oorvleuel. Maar volgens Uys is vasgestel dat net tussen 6 000 en 9 000 huise deur albei se veselinfrastruktuur gedek word. Die voorstel van die kommissie is dat 'n ander mededinger gevind moet word om dié oorvleuelende gebiede oor te neem.

Dividend

Volgens Uys sal Maziv 'n dividend van R4,2 miljard aan CIVH verklaar voordat die transaksie in werking gestel word.

Die finale bedrag van die dividend kan afhang van onder meer onderhandelings met banke en skuldvlakke.

Die onderneming het volgens syfers wat Remgro Maandag in sy aanbieding gewys het netto skuld van R20,8 miljard.

Vodacom wou eers meer hê

Vodacom wou aanvanklik 'n belang van 40% in Maziv bekom het, maar die ander aandeelhouers van CIVH wou nie hê hul belang moet te veel verwater word nie. Die Mededingingstribunaal het volgens Uys ook gemeen die 40%-belang kan te groot wees.

Bloot gegrond op die transaksie kan die waarde van Remgro se belang in Maziv op rofweg R19,5 miljard geraam word, het Vosloo gesê.

Volgens Uys is die transaksie al sedert 2019 oorweeg en is na beleggers gesoek. Vodacom het toe hand opgesteek, maar dit het vier jaar geduur om uiteindelik tot op dié punt te kom. CIVH het self al 'n bykomende R10 miljard in Maziv belê, en wil een of ander tyd 'n opbrengs op dié belegging kry.

Luidens 'n verklaring Vrydag deur Remgro oor die gewysigde besonderhede van die transaksie gaan Vodacom R6,11 miljard betaal vir die aandele in Maziv. Hy verkoop ook sy vesel-na-huis-bates aan Vumatel en sy sogenaamde oordragbates aan Dark Fibre Africa vir 'n vaste bedrag van R4,89 miljard.

In 'n afsonderlike verklaring deur Vodacom sê hy die totale transaksiewaarde is R12,2 miljard.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM