
Feestydfliek
In die Afrikaanse feestydfliek Desemberdiewe wil die karakter Jo (gespeel deur Judi Hattingh) liewer op enige ander plek wees as die dorpie waarheen sy en haar ma kort tevore getrek het.

Karma het egter 'n manier om ook vir 11-jariges 'n les te leer. Om die verrassing van die fliek te beskerm, wil die vervaardigers net sê dat Kersgeskenke by die dorp se rykes gesteel en aan die armes gegee word. Ook in die rolverdeling is Juan-Christoff Smith en Blake Pharo.
Judi Hattingh
Oor haar karakter, Jo Stemmet, vertel Judi (10), van Durbanville in die Wes-Kaap: "Sy is 'n regte rabbedoe wat lekker stoute dinge aanvang. Sy wil graag 'n selfoon hê om haar beste vriendin te bel, want sy het geen vriende op haar nuwe dorp nie. Sy maak dan eindelik twee vriende."

Wat is vanjaar op jou Krismiswenslysie?
Baie cool skryfbehoeftes en miskien 'n pop.
Hoe vier jy en jou gesin gewoonlik Kersdag?
Ons kuier reeds op Oukersaand saam met die familie. Ons sing Kersliedjies en eet saam en maak geskenke oop.
Kersoggend hardloop ek gewoonlik vroeg na die Kersboom om te sien of daar nie nog geskenke is nie. Ons gaan saam kerk toe en dan kom die familie by ons eet. Soms kuier ons laatmiddag saam met vriende.
Jou Kerswens vir alle kinders?
Ek wens dat alle kinders die dag op 'n spesiale manier kan vier en geniet en gelukkig sal wees.
Wat is jou gunsteling-Kerskos?
Beestong met mosterdsous!
Blake Pharo
Dié 12-jarige van Hawston speel Azul in Desemberdiewe. "My karakter steel geskenke vir kinders wat baie arm is," sê Blake.

Die beste Kersgeskenk wat jy al ooit gekry het?
PlayStation4.
Wat is op jou Krismiswenslysie?
Om na 'n ander land te gaan.
Hoe weet jy Kerstyd is hier?
Wanneer my ma begin luister na Mariah Carey se "All I Want for Christmas Is You."
Hoe bring jy en jou gesin gewoonlik Kersdag deur?
Ons maak Kersgeskenke oop op die strand.
Wat is jou wens vir alle kinders?
Dat elkeen 'n geskenk kry en hulle dit geniet. Wat beteken Kersfees vir jou? Om saam met my familie te wees.
Wat is jou gunsteling-Kerskos?
Vleis en waatlemoen.
Jou gunsteling-Kersliedjie?
"Jingle Bells".
Juan-Christoff Smith
Nes Judi is Juan-Christoff (11) van Durbanville. Hy speel Lem, die derde lid van die spannetjie vriende. "Lem is 'n energieke seun met 'n groot begeerte vir avontuur. Hy het geen vriende tot hy Jo en Azul ontmoet nie," vertel Juan-Christoff.

Wat is op jou Krismiswenslysie?
Ek wil graag die Percy Jackson-boekstel hê.
Hoe vier jy en jou gesin Kersdag?
Ons gaan koop so sesuur in die aand baie pasteie, koeldranke en tjips, dan ry ons dorp toe en gee dit vir die minderbevoorregtes. Ons gaan na my ouma toe, waar die hele familie bymekaarkom en Kersfees vier.
Hoe weet jy Kerstyd is hier?
Die Kersliggies in die aand, die goed wat in die winkels verkoop word, ons wat Kersliedjies sing. En my pa wat oor en oor na Josh Groban luister!
Wat is jou gunsteling-Kersfliek?
The Polar Express.
- 'Desemberdiewe' is Saterdag 17 Desember om 20:00 op kykNET.




















