
Die staat van inperking duur al sedert 26 Maart. Dis lank - maar dis lank vir almal. Let op die afwesigheid van die woord "ons" in die sin. As daar iets is wat duidelik geword het tydens dié nimmereindigende inperking, is dit dat ons, ja ons, as studente en hekwagters van die akademici van die selfsugtigste wesens is wat bestaan. Maar kom ek verduidelik voor iemand 'n senu-ineenstorting kry, en haatlike boodskappies op die internet spoeg.
Met 'n geraamde werkloosheidskoers van 50% ná die katastrofe wat ons in die gesig staar, was en is van ons grootste bekommernisse 'n ciggie en 'n glas wyn.
Moet my nie misverstaan nie, ek smag na presies dieselfde goed. Daar is egter belangriker dinge waarop ons behoort te fokus.

Universiteite het reeds verander - dis die waarheid waarna ons soek. Ek sidder om te dink hoeveel studente nie volgende jaar sal kan terugkeer nie weens 'n finansiële inperking wat op duisende gesinne neergedaal het. Universiteit, of die gedagte daaraan, het reeds vir hulle verander. Ook die realiteit van universiteitsdorpies wat oornag in spookdorpe omskep is, het verander.
En hier sit ek en bekommer my oor wanneer ek weer 'n pakkie (wettige) gwaais kan koop. Dis tyd vir ons om ernstig te wees oor wat die post-Covid-19-landskap vir ons inhou.
Te midde die inperking tree die waarheid na vore: Net omdat ek 'n graad het of gaan hê, beteken dit nie ek is noodsaaklik nie. Die teendeel word waar en die mense om ons met die minste word die noodsaaklikste.
Kassiere, vulstasiewerkers, vullisverwyderaars, ek praat van dié mense. Die mense wie se werk ons nie wil doen nie, het sonder dat hulle dit weet elkeen van ons die bittere waarheid geleer - die stelsel waaraan ons so hard bou, is nie net gebreek nie, maar is baie sensitief vir verandering. Dis dieselfde stelsel wat ikoniese fakulteitsgeboue en jou teenwoordigheid in en om hulle as die maatstaf en personifikasie van persoonlike welstand voorstaan.
Nie dat alle universiteite om hul ikoniese geboue draai nie, maar elke student het al die Unisa-grappies gehoor, en baie moontlik al self gemaak. En hier sit ons nou, die oorgrote meerderheid van studente - besig om aanlyn te leer, nes ons Unisa-eweknieë.
Die alternatief vir klasloop is natuurlik aanlyn leer. Die waarheid is egter dat dit net in sekere lande werk, met goeie verspreiding van hulpbronne, en waar 'n taamlike deel van die bevolking hulle nie in volslae armoede bevind nie.
In ons nuwe aanlyn leeromgewing bevind soveel studente hulle nou aan die nog korter end van nog minder geld.
In Suid-Afrika lewe byna 31 miljoen mense amptelik in armoede. Universiteit is daarom die laaste ding waaraan hulle dink, of waaraan hulle kan bekostig om te dink.
In ons nuwe aanlyn leeromgewing bevind soveel studente hulle nou aan die nog korter end van nog minder geld. Die realiteit van studielenings wat betaal moet word, en woonstelle wat leegstaan, tref harder as ooit tevore.
Die Unisa-stigma is die brandmerk van die gebroke stelsel en die akademiese snobisme wat die eksklusiwiteit rondom tersiêre onderrig bewaar.
Die probleme wat universiteite in die post-Covid-19-landskap ondervind, is niks nuuts nie, maar eerder 'n versterkte weergawe van die probleme wat ons al jare teister.
Die goue randjie is dat 'n meer inklusiewe stelsel moontlik uit die as van die oue sal opstaan, maar ek sou nie my asem ophou vir daai een nie, want weer, redelikheid en Suid-Afrika sit nie om dieselfde vuur nie.
Of ons nou 'n nuwe wêreld binnegaan of nie, party waarhede bly staan. As ons dit wil afbreek, moet ons dringend die manier heroorweeg waarop ons dinge doen.
Dis tyd om die vraag wat al so lank gevra word, harder te skree: Wat is belangriker die staatskoffers en hekwagtersposte wat ons beklee, of die welstand van soveel wat voorheen op die rand van die afgrond was, maar nou ongetwyfeld gaan afval?
- Franco van der Berg studeer BA (kommunikasie) aan die Noordwes-Universiteit. Hy kom oorspronklik van Witbank in Mpumalanga.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir Die Student se kompetisie, waar ons studente gevra het hoe universiteite post-Covid gaan lyk. Die wenner stap met R5000 weg.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook.
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















