Koos du Plessis, wyle Afrikaanse sanger, het iets beet gehad toe hy in "Sprokie vir 'n stadskind" sing jy moet die neonboog se punt soek as jy geluk en vrede wil vind.
In Suid-Afrika ken ons daardie soektog maar te goed in ons strewe na die reënboognasie wat ons in 1994 beloof is.
Maar dié ideaal is aan die vervaag met die rookwolk van korrupsie, geweld, nepotisme en rassespanning wat die afgelope twee dekades swaar oor ons koppe hang.
Die Zuma-era is gekenmerk deur talle skandale en korrupsie; die ekonomie het in ligte laaie opgegaan; misdaad en werkloosheid het die hoogte ingeskiet; en groot verdeeldheid het onder landsburgers begin insluip.
En toe kom die skrale moontlikheid van 'n neonboog se punt. Pres. Cyril Ramaphosa se verkiesing het vir 'n greintjie optimisme en hoop gesorg, maar selfs dít was van korte duur.
Die een leë belofte ná die ander het gekom - die belofte van vooruitgang wat soos saad op droë grond gesaai is met geen werklike bedoeling om daardie belofte te vervul nie.
Het die ekonomiese landskap rooskleuriger geword ná die Zuma-era? Nee. Inteendeel, werkloosheid het 'n rekordhoogtepunt van 34,4% bereik en al die probleme waarvoor mense gehoop het Ramaphosa sou oplossings vind, is steeds daar.
Dit het 'n gevoel van anargie onder baie Suid-Afrikaners laat posvat wat verder daartoe gelei het dat landsburgers hoop verloor. Hoop in hulself, in mekaar en bowenal in hul land. Suid-Afrikaners het hul moed, hul trots en die waardes waarin hulle hul lewe geanker het, begin versaak. Baie soos Amerika in die laat 1970's.
Toe betree Ronald Reagan as 40ste president van die VSA die 'verhoog' en speel waarskynlik (as voormalige akteur) sy beste rol tot nog toe.
Daarom glo ek dat die tyd, nou meer as ooit, ryp is vir 'n Reagan-revolusie in Suid-Afrika. Amerika het in die laat 1970's iets baie soortgelyk ervaar as wat Suid-Afrika vandag beleef. Die ekonomie was die slegste sedert die Groot Depressie; inflasie was buitensporig hoog, petrol en diesel was skaars en peperduur en dan was daar die gyselaarskrisis in Iran.
Toe betree Ronald Reagan as 40ste president van die VSA die "verhoog" en speel waarskynlik (as voormalige akteur) sy beste rol tot nog toe om 'n Amerika wat op sy knieë was, na ongekende hoogtes te lei. Sy invloed was so groot dat sy naam in 2015 in Republikeinse debatte, amper 30 jaar nadat hy die Withuis verlaat het, byna 50 keer binne twee uur genoem is.
Reagan se ekonomiese beleid en sy ferm aanslag teenoor die Sowjetunie is enkele kenmerke waaraan 'n mens dink as daar na die Reagan-revolusie verwys word.
Ek wil vir die toepassing hiervan op hedendaagse Suid-Afrika eerder fokus op die waardes wat hy tydens sy ampstermyn uitgestraal het en dit wat hy op die Amerikaanse bevolking afgedruk het om hulle weer hoopvol te maak oor die toekoms en 'n gees van patriotisme aan te vuur.

Reagan se kernwaardes het 'n hoë premie op gesinswaardes en die gesin as die steunpilare van die gemeenskap geplaas. Hy het mense weer trots laat voel op hul land, op mekaar en het weer 'n trots aangewakker vir hul vlag en hul simbole. Maar die belangrikste kernwaarde was sy geloof en dat God die middelpunt van sy lewe en sy besluitneming was.
In Suid-Afrika, met 'n egskeidingsyfer van 17,6%, waar byna een uit elke vyf huwelike in 'n egskeiding eindig, waar gesinne meer wanfunksioneel is as ooit vantevore en waar geweld teen vroue en kinders hoogty vier, moet ons dalk begin (al is dit net vir eers in ons huise) om eerstens om te sien na ons gesin.
Miskien moet ons minder daarop fokus om ons sosiale aansien te bevorder, om mense te probeer beïndruk met bates wat ons nie kan bekostig nie en meer tyd in ons gesin begin belê. Om terug te keer na die dae van saam eet om 'n tafel, probleme uitpraat en daar te wees vir ons kinders en werklik 'n noemenswaardige rol as mentor en rolmodel in hul lewe te speel.
Wanneer laas het jy vir jou man, of vrou of kinders iets positiefs uitgewys oor die land?
Kinders moet weet hul ouers is daar om hulle met raad en daad by te staan te midde van die talle ongevraagde uitdagings wat die lewe na hulle kant toe slinger - in plaas van goedkoop (en meestal verkeerde) advies op 'n sosiale platform.
Verder moet ons weer 'n trots kweek vir ons land. Wanneer laas het jy vir jou man, of vrou of kinders iets positiefs uitgewys oor die land? Is daar, buiten Tatjana Schoenmaker en Ntando Mahlangu, iets anders wat jou opgewonde maak oor jou geboorteland?
Ons kan nie hierdie krisissituasie omkeer as ons nie hoop het in die projek wat ons aanpak nie, as ons nie geloof het dat dit wat ons probeer red, die moeite werd is nie. Die Israelitiese volk het nie oornag in die beloofde land ingestap nie. Hulle is gekonfronteer met die uiterste omstandighede in die woestyn. Hongersnood, geweld, rampe. Amper soos vandag.
Daarom moet ons weer begin trots raak op ons mense, ons simbole, ons vlag, ons kulturele erfenisse, dit wat ons uniek maak. Ek sê glad nie dat ons nie bewus moet wees van die uitdagings en tekortkominge in Suid-Afrika nie, maar ons moet en kan begin fokus op die goeie dinge.
Deur weer patriotisme te koester, Suid-Afrika, (en ja dit gaan nie oornag gebeur nie) kan ons weer streef en droom om die florerende reënboogland te wees waarna ons almal smag. As 'n mens nie trots is op die land wat jy probeer red nie, hoe gaan jy ooit die wilskrag hê om daardie veranderinge na vore te bring? Daarom moet die fokus verskuif van negatiewe braaivleisvuurklagtepraatjies en verdeeldheid in ons huise en gemeenskappe na eenheid, patriotisme en trots.
Reagan word as die alewige optimis uitgebeeld en hoewel so 'n aanslag by tye naïef kan wees, is dit juis daardie tikkie optimisme en geloof wat enigiets moontlik maak.
Laastens moet ons as Suid-Afrikaners weer ten volle geanker raak in die Here en ons vertroue, ten volle, in Hom plaas.
Ons beroep onsself as gelowiges en troos onsself daaraan dat ons kerkgangers is, maar is ons werklik bereid om weg te draai van ons bose weë (korrupsie, bedrog, moord, alkoholisme, pornografie, rassisme) en te begin soek na God se wil vir ons land? Glo en vertrou ons werklik enduit dat die Here 'n plan het vir ons land, dat die Here die paaie vir ons gelyk sal maak en dat ons wel by die neonboog se punt sal uitkom?
Daarom wil ek jou, geagte leser, uitdaag om daar te begin waar die oë van die wêreld jou nie gaan kritiseer en uitlag nie
Ek dink ons almal weet baie duidelik dat ons dit nie doen nie. Daarom wil ek jou, geagte leser, uitdaag om daar te begin waar die oë van die wêreld jou nie gaan kritiseer en uitlag nie, en dit is in jou huis - begin weer 'n premie plaas op die Christelike waardes wat ons so diep koester en gebruik dit weer as die anker vir jou huisgesin, vir jou persoonlike lewe en in jou werksplek.
Leef daardie beeld na buite. Begin bid vir jou land en sy regering en sit daardie gebede om in konstruktiewe aksie en begin weer vertroue in die Here plaas en glo dat die Here, soos wat Hy nog altyd gedoen het, ook hier aan die suidpunt van Afrika vir ons, sy mense, uitkoms sal gee. Al wat dit neem is geloof soos 'n mosterdsaadjie.
Daarom moet ons die Reagan-revolusie in Suid-Afrika aan die gang sit: In ons huise, in ons kerke, in ons skole, in ons gemeenskappe en in ons werkplek om sodoende 'n tsoenami-boodskap van optimisme, patriotisme en familie eenheid deur ons land te stuur.
Ek glo dit is die sleutel om werklik weer ons hoop in onsself, ons gemeenskap en in mekaar te laat opvlam. Dit sal ons in staat stel om weer geluk en vrede te vind, dalk nie by Koos du Plessis se neonboog nie, maar by die voete van ons Skepper.
- Reuben Coetzer is 'n eerstejaar in BCom Regte aan die NWU.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:





















