Die Student

Dís wat studenteleiers se rol regtig moet wees

Ek gee nie voor om 'n kenner te wees op die gebied van leierskap nie, maar tussen my vier leierskapsrolle wat ek op universiteit al vervul het en dan ook my vier jaar van leierskap op hoërskool, glo ek dat ek al goeie ervaring het en 'n redelike ingeligte mening kan vorm.

Ek was in die afgelope studenteraadsverkiesing by die universiteit baie beïndruk deur wat een van die kandidate gesê het, naamlik dat die rol van studenteleiers is om die belange van die studente te bevorder en nie om slegs 'n spreekbuis vir die bestuur te wees nie.

Ek het baie aanklank gevind daarby. Dit het my dieper laat dink oor wat 'n studenteleier veronderstel is om te doen en my ook laat dink aan 'n ervaring wat ek gehad het met die bestuur in my struktuur.

Let wel, ek verwys glad nie na die algemene bestuur van die universiteit nie.

Almal wat my ken kan daarvan getuig dat ek nie iemand is wat net stilbly terwyl iets inherent onregverdig is of wanneer mense benadeel word nie. Dit het toe gebeur dat die bestuur 'n besluit geneem het wat my en ander leiers in my struktuur direk geraak het en drie akademiese dae uit ons program sou neem. Ons het die besluit teengestaan, maar daar is vir ons vertel dat ons as studenteleiers veronderstel is om aanpasbaar te wees.

Johan du Plooy
Johan du Plooy

Klink hierdie houding nie dalk bekend nie? Ons word daagliks in al die verskillende areas van ons lewe daarmee gebombardeer. As dit nie 'n onredelike onderwyser is nie, dan is dit 'n regeringsamptenaar of boetebessie of iemand wat iewers toegelaat word om koning te kraai oor iemand anders.

Dit bring my nou by my eintlike mening.

Ek glo dat studenteleiers elke besluit wat geneem word, hetsy deur hulself of deur die bestuur, moet bevraagteken en krities ondersoek. Is dit tot voordeel vir die mense wat dit gaan raak? Is dit 'n goeie besluit of word dit net geneem ter wille van 'n besluit neem? Is dit regverdig?

Studenteleiers moet gehoor word en nie net gebruik word as pionne in iemand anders se skaakspel nie. Ek het al te veel kere gesien hoe daar sekere besluite eenvoudig deur geforseer word terwyl studenteleiers net terugstaan en stilbly terwyl dit hulle eintlik dwars in die krop steek. Hulle is dan te bang om daarteen standpunt in te neem as gevolg van die moontlike spanning, passiewe aggressiewe opmerkings en nagevolge wat hulle kant toe kan kom omdat hulle dit durf waag om ondersoek in te stel na die besluit.

Studenteleiers word gemeet aan 'n hoër standaard en moet ten alle tyd sorg dat hulle die reëls en regulasies gehoorsaam. As hulle 'n probleem het met iets of die manier hoe iets gedoen word, dan is daar 'n baie spesifieke manier van hoe dit onder die aandag van dié in beheer gebring moet word. Volg jy nie die spesifieke roete nie dan word jou hele argument as ongeldig verklaar en daar word bloot aangegaan soos voorheen. Dit is immers jou skuld dat jy nie die roete gevolg het nie. Sodra studenteleiers dan die bestuur tot verantwoording roep vir hul optrede en keuses, dan geld die normale reëls ewe skielik nie en daar word volgens 'n nuwe stel reëls gespeel.

Ek weet dat die ervarings wat ek al gehad het, dit wat ek gesien het en dit wat daar vir my vertel is deur mede-studenteleiers nie uniek is nie, maar dat hierdie ervarings gedeel word deur studenteleiers van verskillende en uiteenlopende agtergronde, universiteite, strukture en organisasies. Dit is tyd dat daar besef word dat die rol van studenteleiers baie belangriker is as wat die normale narratief sê. Studenteleiers is daar om die belange van studente te bevorder, die pas te stel vir toekomstige generasies en om die algemene besluite van die bestuur krities te evalueer. Maar hulle hoofdoel is om die studentegemeenskap se belange te verteenwoordig en te beskerm.

  • Johan du Plooy studeer BCom regte aan die Universiteit van Pretoria.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Johan du Plooy, Universiteit Van Pretoria

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM