Die Student

Het YouTubers ons maatstaf vir sukses geword?

Ná 'n onlangse debat met iemand oor die definisie van sukses, het dit my laat wonder wat sukses regtig in die 21ste eeu is.

Sukses kan tog nie slegs toegeskryf word aan die prestasie op die sportveld of die verhoog nie. Sukses is relatief en geen twee mense kan sukses dieselfde definieer nie.

Ek sê nie dit is verkeerd om sukses toe te skryf aan groter gebeure in ons lewens nie, maar soms dink ek sukses is om deur 'n moeilike dag te kom sonder om op te gee.

Divan Eloff
Divan Eloff

Wanneer ek my vriende gevra het wat hulle as suksesvol beskou, was hulle eerste antwoord "om jou doelwitte in die lewe te bereik", maar tog sien ons nie meer mekaar se doelwitte en aanloop tot sukses raak nie.

Net omdat ek nie dieselfde doelwitte as jy het nie, of omdat my belangstellings nie ooreenstem met dié van ander nie, beteken dit nie dat ek nie steeds strewe na sukses nie.

Ek dink die grootste probleem in Suid-Afrika is dat ons nie mekaar sukses gun nie omdat ons sukses in 'n kassie wil druk en dit wil definieer.

Hoekom sien ons nie die sukses in die entrepreneurs raak wat produkte met die hand maak en die straatverkopers wat daagliks 'n lewe maak deur vrugte en ander goedere te verkoop nie?

Die antwoord: Omdat dit nie deur die samelewing as "suksesvol" of "suksesvol genoeg" beskou word nie.

So wat is sukses dan, liewe jong mense?

In hierdie eeu word 'n "YouTuber" as meer suksesvol deur die samelewing beskou as iemand wat 'n besigheid van die grond af opgebou het. So wat is sukses dan? Is sukses dan nie meer wat die Lewensoriëntering-juffrou ons geleer het nie?

Ek dink dit is nodig om te besef dat om 'n klip vir iemand uit die pad te rol op hulle pad na sukses, nie jou pad gaan blokkeer nie.

My ma sê baie ons moet onthou dat die aarde om die son draai en nie die son om die aarde nie. Hierdie metafoor kom veral vir my van toepassing as dit kom by die meting van ander se sukses. My idee van sukses is nie noodwendig jou idee van sukses nie, so ek moet aanvaar my interpretasie is nie noodwendig die regte een nie. Omdat nie net ek kan besluit wat sukses is nie.

Verkopers van vrugte en groente by stalletjies word nie as suksesvol genoeg gesien nie al het hulle 'n besigheid in eie reg, skryf Divan Eloff. Foto: Unsplash
Verkopers van vrugte en groente by stalletjies word nie as suksesvol genoeg gesien nie al het hulle 'n besigheid in eie reg, skryf Divan Eloff. Foto: Unsplash (Sebastian Canaves/Unsplashed)

'n Ander probleem wat ek dink ons het, is die kwessie van ons trots.

'n Skotse man het eendag gesê dat Skotse mense van die trotsste nasies ter wêreld is en dat hulle moeilik kritiek aanvaar, maar as hy na Suid-Afrikaners kyk, sien hy die gehardste nasie in die wêreld, wat die heel moeilikste hul trots sluk. Ons weet nie hoe om aan ander hulle prestasies toe te ken nie.

Ek dink dit is menslik om nou en dan effens jaloers te word as ander iets bereik wat jy nog nie bereik het nie, maar kan ons nie net saam met die persoon sy/haar oorwinning vier nie?

Aanvaar dat jy tekortkominge het, want onthou ander het ook tekortkominge wat jy dalk net nie van weet nie. Ek dink dit is ook belangrik om te besef dat elkeen se pad na die bereiking van hul doelwitte anders lyk.

Nie almal ry die N1-roete na sukses nie, die meeste mense moet die kronkel- en stofpaaie aanpak om sukses in die lewe te behaal.

Sukses bly sukses, ongeag hoe hard of hoe min iemand moes werk om sy of haar doelwitte te bereik. So of jy die eerste bevolking op Mars ontdek en of jy vandag net suksesvol wou wees deur 'n plant water te gee, albei is suksesvolle uitkomste.

  • Divan Eloff studeer psigologie en geesteswetenskap aan die Noordwes-Universiteit.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Leer meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Divan Eloff, Noordwes-Universiteit

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM