
Dit klink so glansryk om in beheer te wees, besluite te neem en 'n verskil in ander se lewe te maak. Jy kan uiteindelik jou mening gee en daar sal na jou geluister word. Almal sal na jou luister en doen wat jy sê, want jy is mos 'n gekose leier!
Ongelukkig is dit net 'n illusie en dis nie hoe gebeure in die realiteit plaasvind nie. Jou mooi praatjies en veldtog het maar net gelei tot 'n kantoor, 'n mooi blazer en parkeerplek op kampus.
Wanneer jy as 'n leier gekies word, bind die topbestuur toue om jou ledemate en beheer alle besluite en aksies wat uitgevoer word. Die leier is die marionet en die topbestuur is die poppespeler wat al die toutjies trek.
Poppespeler is in beheer
Van buite af mag dit dalk lyk of die pop baie vryheid en mag het. Die pop het dalk ietwat van 'n sê, maar ongelukkig is die poppespeler in beheer en die pop moet maar saamdans.
Die poppespeler mag dalk die rede wees waarom al die marionet se drome en ideale verlore gaan. Met elke veldtog het almal briljante voorstelle, drome en ideale. Elke leier is passievol waarvoor hulle staan en wil werklik 'n verskil maak.
LEES MEER: 'Juffrou, dink asseblief voor julle skree'
Die nuutgekose leiers stap gewoonlik gemotiveerd in hul poste in, reg om van die wêreld 'n beter plek te maak. Kort voor lank neem die poppespeler beheer en die arme poppe kom agter dat dit effens moeilik gaan wees om hul planne uit te voer.
Die marionette raak later só moedeloos om met die poppespeler te verskil en te baklei, dat hulle ingee en saamdans.
Agter die skerms
Die gehoor is natuurlik glad nie bewus van die poppespeler nie. Niemand weet wat agter die verhoog aangaan nie. Al wat almal sien, is die poppe op die verhoog en die drama wat ontvou.
Dus, as die gehoor nie gaande is oor die storielyn of gebeure nie, word die poppe geblameer.
Al is die poppe voorgesê hoe om op te tree, bly die poppespeler onaantasbaar. Wanneer dinge skeefloop, moet die marionette hul pose hou en die blaam vat.
Hoewel die leiers soos marionette beheer word, kry hulle darem steeds hul tyd op die verhoog om te shine.
'n Leier sal nie sommer die blaam verskuif na die topbestuur nie.
Nou waarom dan verkose leiers as hulle nie regtig mag het nie? As 'n poppekas nie poppe gehad het nie, sou die poppespeler nie die gehoor se aandag kon kry nie.
'n Groep wil ander kies om hulle te verteenwoordig, aangesien hulle meer aanklank by hulle vind.
Die een hand was die ander
'n Groep marionette het meer ondersteuning van die gehoor as wat 'n poppespeler ooit sal hê. As die poppespeler alleen kon wees, sou hy seker. Maar ongelukkig het die poppespeler die marionette nodig om te kry wat hy wil hê.
Die toutjies kan seker geknip word om die poppe toe te laat om vry rond te beweeg. Ongelukkig laat die teater dit nie toe nie en die poppespeler moet altyd daar wees om 'n ogie te hou (en die toutjies te trek).
Dit gaan eintlik albei kante toe. Soveel soos die poppespeler die marionette nodig het, het die marionette die poppespeler nodig.
Sonder die poppespeler gaan die marionette niks kan uitvoer of doen nie.
Die toutjies kan seker geknip word om die poppe toe te laat om vry rond te beweeg. Ongelukkig laat die teater dit nie toe nie en die poppespeler moet altyd daar wees om 'n ogie te hou (en die toutjies te trek).
Hoewel die leiers soos marionette beheer word, kry hulle darem steeds hul tyd op die verhoog om te shine.
- Dianri Wessels (21) is 'n derdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria. Sy studeer BCom menslikehulpbronbestuur. Sy woon al haar hele lewe in Pretoria en het gemartikuleer aan die Hoërskool Garsfontein. Sy sing tans ook in die Tuks Camerata.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat?Lees meer meningstukke hier.
- Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
- Volg ons op Instagram!




















