
Toe ek klein was, het ek elke liewe dag Cartoon Network gekyk met TV-programme soos The Powerpuff Girls, Courage the Cowardly Dog, Dextor's Labratory en Sumurai Jack.
Al die programme het een ding gemeen en dit is die donker ondertone van geweld en wraak. As klein vyfjarige het ek niks daarvan gedink nie, totdat ek sulke erge nagmerries drie uur soggens gekry het dat my ma my moes wakker skud en vashou terwyl ek skop en blou moord skree. Ek het gedroom hoe my ouers deur 'n vleismasjien geprosesseer word, doodgemaak word en verkoop word. Dit is beslis nie normaal vir 'n vyfjarige kind om dit te droom nie.
Ons kon nie agterkom wat sulke vrees in my skep nie, totdat my ma my verbied het om ooit weer Cartoon Network te kyk. Die nagmerries het weggegaan en ek kon aangaan met my doodnormale lewe as 'n vyfjarige.

Hoekom beïnvloed die TV jou onderbewussyn so maklik?
Die brein glip binne sekondes nadat jy begin TV kyk in 'n hipnotiese toestand. Dit bied maklike toegang tot die onderbewussyn en is een van die redes waarom dit maklik is om aan die slaap te raak terwyl jy televisie kyk.
Die hipnotiese effek word hoofsaaklik veroorsaak deur skermflikkering wat jou breingolwe na 'n alfa-toestand laat sak, 'n gemoedstoestand wat jy gewoonlik met meditasie of diep ontspanning sal assosieer. By die meeste mense vind dit tussen 30 sekondes en 3 minute plaas.
In 'n hipnotiese toestand word die inligting waaraan jy blootgestel word, regstreeks in jou onderbewussyn afgelaai, waar dit bestaande oortuigings kan verander en nuwe oortuigings kan vorm sonder dat jy daarvan bewus is.
Dit het duidelike implikasies vir bemarkers wat hul produkte aan kykers wil verkoop.
As jy TV kyk, skakel breinaktiwiteit van die linkerkant van jou brein (verantwoordelik vir logiese denke en kritiese analise) oor na die regterkant.
Dit is belangrik omdat die regterkant van die brein geneig is om inkomende inligting nie krities te ontleed nie. Pleks daarvan gebruik dit 'n emosionele reaksie wat min of geen ontleding van die inligting tot gevolg het nie. Met ander woorde, dit is asof iemand jou iets vertel en jy glo wat hulle sê sonder om self navorsing te doen.
Daarom het mense wat baie TV kyk, die neiging om 'n baie onakkurate en onrealistiese siening van die werklikheid te hê en kinders nog so te meer.
TV is 'n uitstekende hulpmiddel om die verstand te programmeer. Dit bied maklike toegang tot die onderbewussyn, verminder jou vermoë om inkomende inligting te ontleed en verseker konstante daaglikse blootstelling deur 'n fisieke verslawing.
Dit is dus belangrik om na te dink oor wat jy kyk op TV of op Netflix. Jy kan so maklik beïnvloed word deur flitsende beelde en verskuilde boodskappe. So wees versigtig.
Die grootste bekommernis met TV-kyk is dat jy geen beheer het oor wat in jou gedagtes opkom nie. Sommige dinge kan goed wees, terwyl ander sleg kan wees. Dit hou verband met wat jy bewustelik sien, maar daar is groter kommer oor die dinge wat jy nie sien nie. Televisie het miskien meer beheer oor jou lewe as wat jy besef.
Konstante blootstelling aan vrees word ook gekoppel aan 'n verswakte immuunfunksie, voortydige veroudering en aangeleerde hulpeloosheid.
Aangeleerde hulpeloosheid kom voor as jy dink dat alles so sleg is dat jy niks kan doen nie, en dus net iets verdra. Jy kan dalk dink dat TV geen skade berokken nie, omdat jy weet dat dit nie realiteit is nie.
Maar het jy geweet jou onderbewussyn glo dat dit realiteit is? Dit is waarom jou hart vinniger klop terwyl jy na rilprente kyk, of hoe jy op die punt van jou stoel vasgenael is as jy na 'n opwindende fliek kyk.
Sommige mense meen nou dat die negatiewe gevolge van TV-geweld oorgedra word aan jong kinders wat dikwels na-aap wat hulle op die skerm sien.
Albert Bandura, 'n sielkundige, het 'n bekende eksperiment gedoen wat dit baie goed bewys het. Kinders wat na aggressiewe dade kyk, sal waarskynlik dié dade herhaal. Dit is deel van Bandura se sosiale leerteorie.
Hoewel onderliggende boodskappe baie onrus en kommer veroorsaak het, is dit nie onwettig nie en word dit dus op verskillende plekke steeds gebruik.
Dit is dus belangrik om na te dink oor wat jy kyk op TV of op Netflix. Jy kan so maklik beïnvloed word deur flitsende beelde en verskuilde boodskappe. So wees versigtig.
- Erika de Beer studeer korporatiewe kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook.
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















