Die Student

SA is by 'n kruispad

Seymour Ulrich Bothman
Seymour Ulrich Bothman

Suid-Afrika is by 'n kruispad. Hoe gaan ons as jong mense die land verander?

Die reg om te stem is 'n voorreg en moenie as iets minder as dit gesien word nie. Dié reg is tans in gedrang omdat mense in die gemeenskappe onaktief is.

Deur te stem kan jy jou stem laat hoor. Hoewel die reg om te mag stem soms geminag word, kan ons Suid-Afrika nie as 'n demokratiese land beskou as ons nie gaan stem nie?

Toekoms in ons hande

Jou kruisie beteken nie noodwendig dat jy 'n sekere politieke affiliasie het nie, maar só kan jy wel jou stem laat hoor.

Die enigste manier om die huidige stand van sake in Suid-Afrika te verander, is deur te stem. Een van die belangrikste aspekte van 'n demokrasie is die aktiewe deelname van die land se burgers.

Om jou kruisie te trek, is maar net een van die maniere om deel te wees van 'n aktiewe burgerlike samelewing.

Ons as jong mense moet die voorbeeld stel, ons toekoms hang af van wat tans in die land aan die gebeur is. Die toekoms van ons land is in ons hande, ons moet daarom seker maak dat dít wat ons nou doen wel 'n uitwerking op ons toekoms gaan hê.

Gee jou mening deur te stem

Die status quo in Suid-Afrika sal dringend moet verander. Daar is baie Suid-Afrikaners wat glo hul stem sal nie 'n verskil maak nie. Mense sal moet besef dat daar nie net gestem word vir 'n sekere politieke party of 'n presidensiële kandidaat nie.

In dié verkiesing word daar ook gestem vir 'n parlementêre verteenwoordiger wat jóú in die parlement gaan verteenwoordig.

Daar is soveel probleme in Suid-Afrika, en die enigste manier om hierdie probleme op te los, is om vir verandering te stem. Ek is daarvan oortuig dat as jong mense saamstaan, ons 'n beter toekoms vir onsself kan skep. Maar dit begin by die individu.

Kiesers moet onthou dat die persentasie stemme wat elke politieke party ontvang, bepaal hoeveel setels hulle in die parlement sal hê.

Die jong mense hou daarvan om hulleself uit te druk deur hul klere, motors en selfs vriendekringe. Maar ek verstaan nie waarom mense nie ook hul opinie uitdruk in die verkiesing nie.

Daar is soveel probleme in Suid-Afrika, en die enigste manier om hierdie probleme op te los, is om vir verandering te stem. Ek is daarvan oortuig dat as jong mense saamstaan, ons 'n beter toekoms vir onsself kan skep. Maar dit begin by die individu.

Kies vir verandering

Jy moet self kies om vir verandering te stem, en sodoende sal jy ook 'n verskil in ander se lewens kan maak.

Kom ons staan saam en werk vir mekaar, kom ons skep 'n nuwe toekoms vir ons land. Kom ons besluit saam om Suid-Afrika 'n vooruitstrewende land te maak. Word 'n aktiewe burger, verander jou omstandighede vir jouself en vir ander Suid-Afrikaners.

Soms verstaan ons nie hoekom daar so baie goed in ons land verkeerd gaan nie, maar ons laat steeds toe dat 'n vorige generasie vir ons besluite neem.

Kom ons as jong mense maak 'n verskil deur ons stem te laat hoor, maak nie saak op watter manier nie.

Op 8 Mei is daar die perfekte geleentheid om jou mening te laat hoor!

  • Seymour Ulrich Bothman studeer BA Openbare- en Staatsbestuur aan die Noordwes-Universiteit. Hy kom oorspronklik van Randburg in Johannesburg.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie artikel is ‘n inskrywing vir Die Student se kompetisie oor die verkiesing.Lees die ander inskrywings hier.
Seymour Ulrich Bothman, Noordwes-Universiteit

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM