Die Student

Student verkoop haar eie klere om kos vir haweloses te koop

Nikita van Schoor
Nikita van Schoor

"Waar is al die mense? Hoekom is die strate so leeg? Wat is hierdie lockdown waarvan julle praat?"

Hierdie woorde, uit die mond van 'n hawelose man met wie die SAUK 'n onderhoud gevoer het, het die omgee-vuur wat in Nikita van Schoor se hart brand nog meer aangevuur.

Die inperkingstydperk het Nikita, 'n mediese student in haar vierde jaar, opnuut laat besef hoe verskriklik groot die gaping tussen ryk en arm in ons land is, en hoeveel van ons mense op straat en onder die broodlyn probeer oorleef.

Nikita was oorweldig deur die behoefte om vir haweloses te wys dat daar iemand is wat vir hulle omgee - dat almal nie van hulle vergeet het nie. Met elke uitstappie na die kruidenierswinkel het Nikita 'n ekstra brood en 'n vleisie gekoop en toebroodjies uitgedeel aan dié wat honger ly. Kort voor lank het sy egter besluit dat sy, uit haar bevoorregte posisie, meer kan doen om te help.

Só is die "Second Hands of Hope"-inisiatief deur Nikita begin: Sy het 'n Instagram-profiel geskep waarop sy van haar klere verkoop het en die geld gebruik om bestanddele te koop, waarmee sy warm maaltye vir haweloses voorberei het. Soos Nikita se klerevoorraad opgeraak het, het mense na vore getree en klere, geld en bestanddele begin skenk. Die nuus oor Nikita se projek en die ongelooflike werk wat sy doen, het soos 'n veldbrand versprei. Gou het 'n Wes-Kaapse skool en 'n studentegemeenskap van die Universiteit Stellenbosch ook betrokke geraak en kinders en studente aangespoor om skenkings te maak, en selfs hand by te sit met die voorbereiding van die maaltye.

Nikita se organisasie dien tans die Hanover Park-, Landsdowne-, Athlone-, Kenilworth-, Rylands-, Wynberg- en Claremont-gebied in Kaapstad.

Die eerste kooksessie het 51 maaltye opgelewer. Vandag glimlag Nikita trots wanneer sy sê dat gemiddeld 200 mense elke Saterdag uit haar kombuis gevoed word en dat sy en haar span al meer as 2 300 maaltye voorberei en verskaf het, wat dien as 'n ligpunt vir mense wat waarskynlik al begin glo het dat die wêreld hulle weggegooi en vergeet het.

Terselfdertyd het Nikita ook klere ingesamel om aan die Holy Cross-kinderhuis se inwoners te skenk, wat onlangs al hul besittings in 'n brand verloor het.

Nikita en van die studente wat haar gehelp het
Nikita en van die studente wat haar gehelp het

Teen hierdie tyd wonder jy seker al hoe op dees aarde Nikita hierdie massiewe projek én haar studies balanseer. Haar antwoord? "Om 'n paar uur per week af te staan en sodoende te verseker dat 'n paar magies minstens een keer daardie week gevul word, is werklik nie te veel gevra van my nie. Inteendeel, dit is baie lonende werk en motiveer my ook om harder te leer."

Nikita het toestemming gekry om hierdie projek te laat tel as haar elektief-module vir die jaar en is tans besig om 'n literatuuroorsig te doen oor wêreldhongersnood en voedselsekerheid.

Dié hedendaagse Moeder Teresa beklemtoon dat die doel van "Second Hands of Hope" is om honger, eensame mense met elke maaltyd (wat met die grootste liefde gekook is) geliefd te laat voel.

Anandi de Witt
Anandi de Witt

Volgens Nikita kry sy hierdie liefde vir mense by haar ouma, wat haar van kleins af leer hoe belangrik dit is om te gee. Sy vertel met die grootste liefde en bewondering hoe haar ouma haar uitgedaag het om uit die perspektief van 'n hawelose mens na die wêreld te kyk. "Dit is só maklik om te oordeel, maar kan jy jouself indink hoe moeilik dit moet wees om jou laaste bietjie trots te sluk en aan 'n vreemdeling se deur te klop om vir bietjie oorskiet te vra?"

Nikita sluit ons onderhoud af met die volgende woorde: "Tot jy self in daardie posisie was, het jy nie die reg om te oordeel nie. Jy is dit aan jouself, en ander, verskuldig om te help waar jy kan."

Vir meer inligting, of indien jy graag 'n bydrae wil lewer, kontak gerus vir Nikita deur "Second Hands of Hope" se Instagram-blad.

  • Anandi de Witt studeer medies aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir 'n kompetisie waar Die Student vir studente gevra het om 'n meningstuk oor 'n lockdown-legende te skryf. Die wenner stap weg met R5000.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Anandi De Witt, Universiteit Stellenbosch

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM