Grey Kollege in Bloemfontein gebruik nou sonkrag om koste te besnoei en sy koolstofvoetspoor te laat krimp.
Die skool het reeds sedert die begin van 2021 deeglike navorsing en beplanning gedoen om die sonkragstelsel op te rig, sê Hein Vosloo, 'n skoolpersoneellid wat onder meer op die skool se terrein-komitee dien.
Die stelsel op die parkeerterrein langs die hoofrugbyveld bestaan uit 540 sonpanele wat oor 125 m strek.
"Ons het besef ons moet iets doen om ons kragkapasiteit uit te brei en kragkoste te bespaar," sê Vosloo.
Ben Joubert, 'n ingenieur van die maatskappy RWK Electrical in Bloemfontein wat dié stelsels installeer, sê die stelsel kan 300 kW opwek, wat meer is as die 200 kW wat die skool gemiddeld deur die dag in spitstyd benodig. RWK Electrical werk in samewerking met Thabile Engineering aan die projek.
As die son skyn, absorbeer die panele sonligenergie en dus sal die stelsel werk al is dit effens bewolk, koud of stowwerig. Dit gaan oor hoe helder die son skyn, nie oor hoe warm dit is nie.
Die stelsel bestaan uit drie "tafels" en verwys na die dele in die stelsel wat elk deur 'n wisselrigter (inverter) krag gelei. Die sonlig val op die sonpanele, wat die sonligenergie na elektriese energie in die vorm van 'n gelykstroom omskakel. Dit vloei deur die wisselrigter, word na 'n wisselstroom omgeskakel en sowat 500 kVA word deur 'n mini-substasie na die skool versprei.

Die oorskakeling tussen Centlec (Eskomkrag) en die sonkragstelsel is outomaties, en 'n mens kom nie agter as daar byvoorbeeld van sonkrag na Eskomkrag oorgeskakel word nie.
"Die leerlinge gaan dus sonder enige onderbrekings skool."
Volgens Joubert behoort die panele bestand teen hael, wind en reën te wees, maar te veel stof op die panele kan 'n impak op die kraglewering hê. Die panele kan net met skoon water afgespoel word.
"Daar is 'n instandhoudingskomponent in die kontrak wat bepaal dat die stelsel vir twee jaar deur die kontrakteurs in stand gehou sal word," sê Vosloo.
Hy benadruk dis juis een van die redes hoekom hulle die regte prosesse gevolg het om die stelsel te laat installeer.
"Ons het behoeftebepalings gedoen en konsultante geraadpleeg om ons met die ontwerpproses te help."
Daarna het hulle tenders uitgereik en daarvolgens die beste mense vir die projek aangestel.
"Daar is deesdae 'n reusebehoefte aan sonkragstelsels en dus baie mense wat sê hulle kan die werk doen. Ek sal enigeen wat dit oorweeg, aanraai om deeglike beplanning en navorsing te doen voordat hulle iemand aanstel."
Vosloo erken dis nie goedkoop nie, maar "goedkoop kan duurkoop wees", sê hy.
"Die projek is tot dusver 'n reusesukses en ons glo dit sal suksesvol bly."
Verskillende entiteite in die skool het geld vir die stelsel gegee, met 'n terugbetalingsooreenkoms, sê hy.






















