Matrieks

13 A’s vir Potch se Hodgson-drieling

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hoewel die 18-jarige Hodgson-drieling van Potchefstroom in Noordwes se persoonlikhede en belangstellings verskil, het hulle een ding gemeen: Hulle weet waarheen hulle op pad is.

Die rooikop Declan en donkerkop Ethan het albei aan die Hoërskool Ferdinand Postma in die stad gematrikuleer. Kerryn, die enigste roos tussen die dorings, het aan The High School for Girls in Potchefstroom gematrikuleer. Dié drie slimkoppe het saam altesame 13 onderskeidings behaal. Declan in Engels eerste addisionele taal, wiskunde, fisiese wetenskappe en ingenieursgrafika en ontwerp, Ethan in Engels eerste addisionele taal en besigheidstudies, en Kerryn in Engels huistaal, Afrikaans eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe.

Die Hodgson-drieling is Ethan (links) en Declan, en hul sussie, Kerryn, sit agter hulle. Foto: Susan Cilliers
Die Hodgson-drieling is Ethan (links) en Declan, en hul sussie, Kerryn, sit agter hulle. Foto: Susan Cilliers

Kerryn gaan vanjaar met haar mediese studies aan die Universiteit van Kaapstad begin. "Vandat ek 'n kleuter was, het ek geweet ek wil eendag 'n dokter word. Later sal ek graag in neurologie wil spesialiseer."

Dit sal die eerste keer nog wees dat die drie van mekaar geskei is, want Declan en Ethan bly in Potchefstroom, waar hulle met hul studies aan die Noordwes-Universiteit sal begin. Declan het ingeskryf vir 'n graad in megatroniese ingenieurswese. "Ek is die ou wat robotte wil bou om mense se werk te doen," sê hy skertsend. "Ek oorweeg ook om 'n meestersgraad in die buiteland te verwerf en óf in die VSA óf iewers in Afrika te gaan werk. Afrika is besig om vinnig te ontwikkel en daar is baie geleenthede vir ingenieurs. Ek hoop om in my loopbaan iets vir die wêreld te beteken."

Ethan wil in sy ma, Heinricha, se voetspore volg en 'n prokureur word. Hy begin vanjaar met sy studies in BA Regte en sielkunde, waarna hy sy LLB-graad wil behaal. "Ek mik om eendag 'n regter te word en sal my graag op korporatiewe reg wil toespits."

Ethan en Declan het albei op skool rugby gespeel en judo beoefen. Die boeties erken hulle is nie juis boekwurms nie en sal eerder televisie kyk of PlayStation speel wanneer hulle nie met hul sport en skoolwerk doenig is nie. Kerryn verslind egter 'n wye verskeidenheid boeke - veral fantasieverhale soos Game of Thrones. "Ek hou ook van klassieke verhale."

Kerryn is boonop 'n kranige ballerina wat al dans sedert sy vier jaar oud was.

Sy sê hoewel haar ma Afrikaanssprekend is en sy in 'n Afrikaanse laerskool was, wou sy graag na 'n meisieskool gaan. Die drieling se sakeman-pa, Roddy, is Engelssprekend. Dit was dus nie 'n groot aanpassing om na 'n Engelse skool te gaan nie omdat die kinders tweetalig grootgeword het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM