Die dag toe hulle vir Lara Gehring (18), 'n gewese leerling aan die Hoërskool Montana in Worcester, vertel dat sy diabetes het, het sy in trane uitgebars.
Maar vandag spuit sy haarself sonder moeite in om te verseker haar bloedglukosevlak bly stabiel.
Lara vertel tipe 1-diabetes is in 2017 op 11-jarige ouderdom by haar gediagnoseer.

"Ek het eendag net baie gewig begin verloor. Ek wou nie eet nie, was baie dors en ook baie moeg. Ek het ook baie toilet toe gegaan. Ek het eers gedink dit is die stres oor eksamen dat ek so sleg begin voel het. Maar toe my ma besef ek verloor drasties baie gewig, het sy my dadelik dokter toe geneem.
"Hulle het my bloedglukose geneem en dit was 23,8 mmol/l terwyl dit eintlik tussen 3,6 en 5,8 mmol/l moet wees. Die dokter het toe vir my gesê dat ek diabetes het. Ek het in trane uitgebars en ek het geweet dat ek myself gaan moet inspuit, want my oupa én pa is diabete," sê Lara.
Volgens Lara het sy 'n groot vrees vir naalde en was dit vir haar moeilik om haar diagnose te aanvaar.
"Dit het my baie lank gevat om oor die vrees vir naalde te kom. Die laaste twee jaar van laerskool was vir my baie moeilik, want ek het myself nie altyd ingespuit nie weens die vrees vir naalde. Ek was ook gereeld in die hospitaal.
"Ek het iewers besef dat as ek nie vir myself gaan sorg nie, dan gaan ek doodgaan, want jy kort insulien in jou liggaam. Ek is steeds nie so mal oor naalde nie, maar dit is draaglik. Ek kan myself nou inspuit en vat dit dag vir dag."
Lara moet ook elke ses maande na die Winelands Diabetes Centre in die Paarl gaan om te verseker alles is nog klopdisselboom.
"Dit is 'n baie duur siekte. Jy moet 'n mediese fonds hê as jy diabetes het anders gaan jy alles uit jou sak uit moet betaal."
Sy sê haar siekte het haar ook laat uitstaan en as gevolg hiervan was dit moeilik om vriende te maak op hoërskool.
"Baie kinders het al vir my gesê hulle is huiwerig om met my vriende te wees. Hulle voel sodra ek met hulle vriende is, dat hulle na my moet kyk. Hulle wil nie daardie verantwoordelikheid neem as ek miskien sleg voel nie. En jy kan nie meer by vriende oorslaap nie, want die ouers vra wat moet hulle doen as ek iets oorkom. Dit was baie moeilik vir my," verduidelik sy.
Volgens Lara het mense die persepsie dat as jy 'n diabeet is, het jy te veel ongesonde kos geëet.
"Maar dit is nie so nie. My pankreas het net opgehou insulien vervaardig en nou is ek afhanklik van insulien. Mense moet beter opgevoed word oor siektes soos diabetes, veral in skole."
In 2020 het Lara weer 'n skokdiagnose gekry toe Asperger se sindroom, 'n outismespektrumversteuring, by haar gediagnoseer is.
"Gedurende daardie jaar toe Covid-19 uitgebreek het, was ek baie depressief. Dit het net gevoel ek wil nie uit die bed klim nie. My kliniese sielkundige het toe voorgestel dat ek vir 'n paar toetse gaan en toe kom die diagnose.
"Dit het 'n hele paar vrae wat ek gehad het beantwoord, soos: Hoekom sukkel ek so om vriende te maak? Hoekom kan ek nie soos enige ander persoon met iemand praat nie?
"Elke keer as ek iemand nuut ontmoet, is ek baie skaam. Ek sukkel ook soms met oogkontak.
"Mense het al vir my ma gevra hoekom het ek nie oogkontak met mense gemaak nie.
"Ek is baie dankbaar vir die diagnose. Nou weet ek hoekom ek is soos ek is," sê Lara.
Sy is veral dankbaar teenoor die skool en onderwysers dat hulle regdeur haar hoërskoolloopbaan so ontvanklik was teenoor haar en haar ondersteun het.
"Ek het nooit uit gevoel by die hoërskool nie. Jy is nie net 'n nommer nie, jy kry individuele aandag en hulle gee om vir jou."
Lara is baie opgewonde oor haar studie wat sy vanjaar by die Universiteit Stellenbosch gaan begin.
"Ek het 'n groot belangstelling in geskiedenis, veral as dit oor oorloë is. Dit was een van my beste vakke op skool en dit gaan vanjaar my fokus wees.
"Ek sien uit vir 'n verandering en om iets te doen waarvan ek hou. Ek is bly ek hoef nou glad nie meer wiskunde te doen nie!"
Sy het gister matriek met toelating tot graadstudies geslaag.




















