Matrieks

Aardklop so tussendeur eksamenskryf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Om by Aardklop 17 optredes te lewer én tussendeur rekordeksamen te skryf, is 'n belewenis wat Zoë Labuschagne nie gou gaan vergeet nie. Dié oudleerling van die Hoërskool Noordheuwel het die hoofrol van Baby vertolk in Pronk Podium (hoërskole) se wenproduksie vir 2022, Middernagstad. Sy het saam met 'n gr. 11-seun, Connor McGill, die stuk laat lewe kry. Boonop het sy matriek met 'n onderskeidings in drama en universiteitsvrystelling geslaag.

"Ek droom al baie lank daarvan om by Aardklop op te tree. Dit was so 'n eer, al was dit ook baie uitputtend en moeilik om balans te hou met ons optredes en my akademie.

Zoë Labuschagne
Zoë Labuschagne

"Middernagstad se Baby was 'n interessante rol, want sy is 'n baie emosionele karakter. Haar ma het van haar afstand gedoen en haar pa mishandel haar. Dit was moeilik om met haar te identifiseer, want ek het nie ervaring van hierdie tipe goed nie. Maar ek het baie by haar geleer," vertel Zoë.

Sy vertel hul Aardklop-optredes is almal baie goed ontvang.

"Daar was met elke optrede iemand in die gehoor wat gehuil het, so dan weet ek ons het ten minste een persoon op 'n emosionele vlak geraak met die storie."

Middernagstad het ook aan die ATKV-kompetisie deelgeneem, en hier het hulle deurgedring tot die eindronde in die Kaap. By die FAK-toneelfees is Connor bekroon as die beste akteur en Zoë is genomineer as die beste aktrise.

"By die Reza de Wet-toneelfees het ons algeheel tweede geëindig en ek het die prys ontvang vir die beste speler van die fees."

Zoë het ook tyd ingeruim om in haar matriekjaar aan individuele kompetisies deel te neem, insluitende die Allegretto-kompetisie, die nasionale eisteddfod en die nasionale toneelspelkompetisie.

"By laasgenoemde het ek 'n beurs gewen om by die Pali Incubation-instituut te gaan studeer waaroor ek vreeslik opgewonde is. Ek doen al drama vandat ek drie jaar oud is en het by my kleuterskooltannie my liefde daarvoor ontdek.

"Drama is vir my iets besonders; dit gee jou die kans om verskillende mense te speel en om jouself uit te leef op 'n platform wat die potensiaal het om mense se lewens te verander. En daar is niks so lekker nie soos om te weet jy het die gehoor om jou pinkie gedraai. Daarom sien ek baie uit om vanjaar by Pali my vaardighede en talente as aktrise te slyp."

Karla Janse van Vuuren

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM