Matrieks

Alex druk deur tydens ’n rowwe matriekjaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hy wou in 'n stadium skool verlaat, maar gelukkig het sy ma hom oorreed om van plan te verander en sy matriekjaar suksesvol te voltooi.

So sê Alex Hanekom (18), 'n boorling van Bonnievale, wat 'n moeilike jaar agter die rug het. Hy voeg by hy is bly hy het nooit sy besluit deurgevoer nie.

Die 18-jarige Alex Hanekom sê hy is bly sy ma kon hom oorreed om nie skool te verlaat nie.
Die 18-jarige Alex Hanekom sê hy is bly sy ma kon hom oorreed om nie skool te verlaat nie.

"Ek is baie dankbaar vir my ma. As dit nie vir haar was nie, kon dinge soveel anders uitgedraai het. Ek is net bly ek kon met my ma daaroor gesels," vertel hy.

Dié matriekleerling aan die Hoër­ Tegniese Skool Drostdy vertel sy ouers se egskeiding vroeg verlede jaar het 'n groot impak op hom gehad en dit het veral sy skoolwerk geaffekteer.

"Ek het net nie meer omgegee oor skool, vriende of onderwysers nie. Die ergste was toe ek my ‘koel' verloor het met 'n onderwyser toe hy my vra oor my vakke se punte wat so swak lyk. Dit is toe dat 'n bom gebars het," sê Alex. Toe hy en sy ma daarna 'n vergadering met die skoolhoof en sy onderwysers gehad het, het hy besef dat hy sy sokkies moet optrek as hy sy eindeksamen wil slaag en dat die skool regtig vir hom omgee en wil hê dat hy sy matriekjaar goed moet afsluit.

"Op daardie oomblik toe besef ek dat hulle regtig vir my omgee en hulle my wil help om my matriek te slaag. Hulle het uit hul pad uit gegaan om my te help deur ou vraestelle te gee wat ek kon uitwerk en hulle het gehelp met die werk waarmee ek sukkel. My wiskundeonderwyser het selfs vir my PDF-dokumente gestuur.

"Ek is spyt ek het nie vroeër gepraat oor wat aangaan nie - dinge kon soveel anders gewees het," gesê hy.

Alex vertel verder dat hy al 'n hele paar jaar met sy geestesgesondheid ook sukkel en antidepressante is vir hom voorgeskryf.

En met sy ouers se egskeiding het sy geestestoestand ook daaronder gely, voeg hy by.

"Ek het vroeg in die jaar 'n angsaanval gekry die dag toe ek my pa wou vertel dat ek die skool wil verlaat. Alles het in 'n stadium net te veel geword en ek het uitgebars in trane en ma het my kom troos. Ek en my pa het nie die beste verhouding nie en ek dink dit het ook baie druk op my geplaas."

Alex voeg by dat omdat sy ma bekommerd oor hom was, is daar besluit dat hy vir die laaste twee kwartale nie meer in die koshuis gaan bly nie, maar eerder by die huis.

"Dit was nogal 'n groot aanpassing omdat ek vir vier jaar in die koshuis gebly het. My ma wou maar net vir my onder haar wakende oog hou ná daardie angsaanval wat ek gekry het."

Net toe hy dink daar is lig aan die einde van die tonnel, toe moes hy aan die begin van sy eindeksamen sy ouma ook aan die dood afstaan.

"Die dag toe sy oorlede is, het ek nog eksamen geskryf en my ma wou my eers nie sê my ouma is oorlede nie. Ek was baie hartseer toe ek hoor sy is dood. Sy was altyd die een wat ons familie bymekaar gehou het."

Volgens Alex is hy bly die jaar is agter die rug en is hy veral baie dankbaar vir sy ma wat hom deur alles ondersteun het.

"Ek is gelukkig om so 'n wonderlike ma te hê wat my heeltyd bygestaan het. Daar was dae wat ons baklei het, maar ons het geweet ons kan op mekaar steun en staatmaak. Ons altwee het 'n rowwe jaar agter die rug, so dit was nie moeilik om te verstaan wat ons elkeen deurgemaak het nie," voeg hy by.

Alex beoog om vanjaar sy eie besigheid op die been te bring deur sy eie klerehandelsnaam te ontwerp noudat hy matriek geslaag het.

"Ek dink ek het 'n kop vir besigheid en sien daarna uit om hierdie nuwe uitdaging aan te pak. Ek gaan my klasvriende mis, maar daar wag nou 'n nuwe avontuur."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM