Matrieks

Ashley kry beurs van top-universiteit in VSA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Sy laat die atletiekrekords spat, maar Ashley Erasmus (18), een van Suid-Afrika se voorste vroueatlete, moes haar suksesvolle matriekjaar mooi beplan.

"Verlede jaar was beslis my besigste skooljaar, maar ook een van die beste," sê die oudmatrikulant van die Hoërskool Nelspruit. "My grootste uitdaging was om 'n balans tussen my akademie en sport te vind. Matriek was propvol atletiek-oefening en -byeenkomste. As jy op internasionale vlak wil meeding, moet jy ure op die veld deurbring. Maar ek wou ook akademies presteer, en dít verg weer ure voor die boeke."

Nietemin kon sy wegstap met die goue medalje in gewigstoot op verlede jaar se senior Suid-Afrikaanse kampioenskappe. Dit beteken sy is nie net die Suid Afrikaanse hoërskoolkampioen in dié item nie, maar ook die beste vroue-gewigstoter in die land. Sy het boonop in Mei twee goue medaljes, in o. 20-gewigstoot en -diskus, op die jeug-Afrika-kampioenskappe in Ndola, Zambië, gewen.

Sy is ook die o. 17- Suid-Afrikaanse rekordhouer vir vroue-gewigstoot (3 kg), wat sy in 2022 opgestel het.

Ashley Erasmus Foto: Marius Nortje
Ashley Erasmus Foto: Marius Nortje

Haar gunstelingvak was besigheidstudies, waarvoor sy 'n onderskeiding gekry het. "Dié vak kom natuurlik vir my, ek het nie nodig om hard daarvoor te leer nie. Dit maak my rustig, omdat sport soveel van my tyd opneem."

Sy gaan vanjaar sakestudies aan die University of Southern California (USC), een van Amerika se gesogste private universiteite, studeer, en gaan haar as 'n USC-Trojan by die universiteit se baan-en-veld-span aansluit. Die universiteit het aan haar 'n beurs toegeken wat al haar koste gaan dek. USC is een van die universiteite in Amerika waar dit die moeilikste is om keuring te kry, en net een uit elke tien aansoeke is suksesvol. Alumni sluit in die ruimtevaarder Neil Armstrong, die rolprentvervaardiger George Lucas, verskeie Nobelprys-wenners, Olimpiese kampioene en van die wêreld se top-sakelui. Die Suid-Afrikaanse sakeman Richard Enthoven, wat die kitskosgroep Nando's begin het, het ook hier sy graad ontvang.

Buiten vir al haar prestasies meen die voormalige Nellie dat haar matriekjaar ook 'n jaar van groei vir haar was.

Sy moes haar tyd tussen die sportveld en akademie fyn beplan, en sommige dae moes die oefen maar tweede viool speel sodat sy kon leer vir 'n belangrike toets. Terselfdertyd was daar sommige dae waar sy skool moes misloop vir sport. Dit het haar geleer hoe om haar tyd beter te bestuur.

Nietemin het sy ook 'n onderskeiding in toerisme behaal.Sy oefen tans vir die o. 20-wêreldkampioenskappe wat in Augustus in Peru plaasvind.

Haar ouers, Lourens en Angelique, is haar grootste inspirasie. "Hulle loop nooit 'n byeenkoms mis nie. My pa is my afrigter en ons bring ure op die oefenveld deur. Hy maak seker dat ek my volle potensiaal bereik."

Carla Lewis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM