Matrieks

Bfn-matrikulant droom van groot besigheid bestuur

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Carlise Botha van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein het agt onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal. Foto: Verskaf
Carlise Botha van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein het agt onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal. Foto: Verskaf

Carlise Botha (18) van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein, wat spog met agt onderskeidings in die matriekeindeksamen, wil eendag aan die hoof van 'n groot sakeonderneming staan.

Sy gaan vanjaar BRek aan die Noordwes-Universiteit (Pukke) studeer om eindelik 'n geoktrooieerde rekenmeester te word. Sy wil eendag as geoktrooieerde rekenmeester 'n besigheid bestuur.

Sy het onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, rekeningkunde, wiskunde, fisiese wetenskappe en dramatiese kunste behaal.

Sy sê sy het hard gewerk in die matriekjaar.

"Werk hard en los dit in die Here se hande," is haar geheim.

Sy het 10 tot 12 uur per dag in die eindeksamen gewerk, waarvan so sewe uur agter die boeke was.

"By JF kweek hulle kinders wat gedrewe is en hard werk. Ons het baie ekstra klasse gehad en ook mekaar gemotiveer. Ons het baie ondersteuning van ons onderwysers gekry. Hulle het vir ons alles gedoen en die ekstra myl geloop," sê sy.

"Ek het van die beste onderwysers gehad waarvan 'n mens kan droom. Ek was baie geseënd met onderwysers. JF is die plek van geleenthede. Die skool het vir my alles moontlik gemaak waar ek in elke gebied 'n geleentheid kon kry om myself uit te leef."

Carlise sê sy "sit baie op haar bordjie". In haar matriekjaar het sy aan landloop deelgeneem, maar ook baie in kultuur en akademie gesit.

Sy het aan redenaarskompetisies, debat en tienertoneel deelgeneem, insluitend die nasionale ATKV-redenaarskompetisie. Sy glo sy sal haar passie vir syfers en kultuur eendag kombineer.

"My een motto is: ‘Kyk noord en foeter voort.' En maak staat op die Here en jy sal altyd bó eindig. En natuurlik harde werk. My ma se motto, ‘Niks in die lewe wat die moeite werd is, verg nie harde werk nie', het my deur die eksamen gekry."

Pa Jacques is 'n vakadviseur vir natuurwetenskappe vir gr. 8 en 9 en ma Corina is 'n arbeidsterapeut. Haar broer, Louis, is reeds 'n gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM