Die Covid-19-pandemie se inperking het daartoe gelei dat baie mense nuwe talente ontdek het - vir party was dit om piesangbrood te bak, en vir ander, soos Kyle Wolter, was dit boogskiet.
Kyle, wat met onderskeidings in wiskundige geletterdheid en lewensoriëntering asook universiteitsvrystelling aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp gematrikuleer het, sê hy het sommer in hul agtertuin begin skiet omdat hy 'n nuwe uitdaging nodig gehad het.

"Toe die gogga behoorlik byt, het ek by die Archery Hearts-klub in Krugersdorp aangesluit. Hier het ek die kans gekry om baie by ander mense te leer."
Hy het sy talent begin slyp, en het in April verlede jaar aan die 72ste SA Nasionale Boogskietkampioenskappe en die Suidelike Afrika-streektoernooi by die Universiteit van Pretoria deelgeneem. In die o.21-ouderdomsgroep waarin hy deelgeneem het, het hy in albei kampioenskappe 'n eerste plek behaal.
"My ma sê altyd, benader kompetisies met 'n wenner se ingesteldheid, en dit is ook wat ek gedoen het!"
Kyle het twee boë, een vir kompetisies en een vir jag. Hy het ook verlede jaar sy eerste bok met 'n pyl op 'n jagplaas in Swartruggens geskiet.
"Dit was 'n baie lekker uitdaging, en die moeilikste deel was seker die twee dae wat ons in die skuilingmoes wag voordat ek my skoot gekry het. Ek is baie trots op die eland wat ek platgetrek het."
Boogskiet is 'n sport sonder grense, meen Kyle, en hy vertel daar is 'n kind van vyf en 'n man van 72 wat albei by die klub skiet. Die voorsitter van Kyle se klub, Johann Maritz, sê al is boogskiet 'n sport wat deesdae baie belangstelling ontlok, wil hulle dit graag nog laat uitbrei.
"Kyle is baie nederig, maar dit vereis baie harde werk om te presteer. 'n Mens moet jou brein én jou lyf oefen en voorberei om uit te blink met 'n boog. Dit is egter juis belangrik dat 'n mens nederig bly, want sodra jy arrogant raak, begin jy dikwels swak skiet!"
Kyle gebruik 'n saamgestelde (compound) boog wat tans nie op die Olimpiese Spele toegelaat word nie. Daar is egter sprake dat dié soort boog sy eie kategorie op die Spele gaan kry.
"Dit is natuurlik 'n droom om aan die Olimpiese Spele deel te neem. Ek mik ook om Suid-Afrika in Julie vanjaar op die Junior Wêreldkampioenskappe in Ierland te verteenwoordig," sê hy.
Hy is nog onseker van sy studierigting vir vanjaar.
"Ek gaan die jaar afneem en besluit wat ek wil doen. Al wat ek weet, is dat ek nie in 'n kantoor wil sit nie!"



















