Vir Duncan Pentz, eienaar van Pick n Pay Preller Walk, is dié onderneming betrokke by die Matrikulant van die Jaar-kompetisie om jong mense aan te moedig om te studeer, veral diegene wat nie die finansiële bronne het om dit te doen nie.
Voorts sê Duncan dit is hul belegging in die ontwikkeling van jong mense vir die toekoms, veral gesien in die lig van hoeveel professionele mense jaarliks emigreer.
Pick n Pay Preller Walk skenk R15 000, 'n mikrogolfoond en R500-koopbewys aan die 14 topfinaliste.
Matrikulante van oor die land heen kan hulle nou vir dié kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad inskryf.

Thomas Olivier, Omphile Choane en Franke du Plooy, drie finaliste in verlede jaar se 41ste kompetisie en almal vanjaar mediese studente, is vas oortuig dat hulle die regte keuse van studierigting gemaak het.
"Ek leer elke dag iets nuuts, soos van die proses in 'n mens se lyf wat selle vernietig wat nie daar moet wees nie," sê Franke, die 2022-hoofmeisie van Langenhoven-Gimnasium in Oudtshoorn. "Ek besef al meer God is 'n God van detail."
Reeds in die eerste semester het sy haarself beter leer ken. "Ek is meer aanpasbaar as wat ek gedink het. 'n Mens kan veel meer doen as wat jy dink. Daarom vra jy altyd die besigste mens om jou met iets te help!"
Omphile, verlede jaar die hoofseun aan Welkom High School, meld dat die volume werk baie groot is.

Hy bly in een van die nuwe koshuise vir mediese studente op kampus en sê dat hy redelik vinnig daarby aangepas het om weg van sy ouerhuis te wees. Nog iets wat hy geniet, is die multikulturele samestelling van sy klasse.
Vir Thomas, in 2022 'n prefek aan die Hoërskool Middelburg in die Oos-Kaap, was die grootste aanpassing om tyd te maak vir koshuisaktiwiteite, akademie én sport.
Skryf nou in
Veelsydige matrikulante wat akademies presteer, betrokke is by kultuur, sport en leierskap by hul skole, en wat beoog om in 2024 heeltyds aan die UV te studeer, kan hulle inskryf.
Matrikulante kan hulself inskryf of hul skool kan hulle inskryf. Die skoolhoof se handtekening en die skool se stempel moet op die vorm aangebring word.
Alle inskrywings word volgens vaste kriteria beoordeel en 25 semifinaliste word aangewys. Altesaam 14 finaliste, wat uit die 25 gekies word, neem aan die Matrikulant van die Jaar-eindronde van 9 tot 11 Oktober in Bloemfontein deel.
Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, geskenke ter waarde van R10 000, en gaan na die eindronde-geleentheid in Bloemfontein.
Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-trust en beurse van UV Studentewerwing.
Inskrywings moet die UV voor of op Vrydag 4 Augustus bereik. Vir inskryfvorms, stuur e-pos na Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.



















