Matrieks

Christiaan sweef die toekoms in

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Christiaan Jonker wil deel word van sy familie se sweeftuig-onderneming. Foto: Susan Cilliers
Christiaan Jonker wil deel word van sy familie se sweeftuig-onderneming. Foto: Susan Cilliers

Christiaan Jonker (18) is gereed om die toekoms in te sweef in die holte van 'n sweeftuig.

Dié oudleerling van Potchefstroom Gimnasium het matriek met drie onderskeidings geslaag. Hy begin vanjaar met sy studies in bedryfsingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus met een doel voor oë: om deel te word van sy pa en oom, Attie en Uys Jonker, en Bossie Bosman se sweeftuig-onderneming Jonker Sailplanes in Potchefstroom.

Christiaan vertel hy het van kleins af grootgeword met die sweeftuie en dat dit hom baie na aan die hart lê. "Die gogga het my reeds op 'n jong ouderdom gebyt. Wanneer 'n mens so vlieg, voel jy vry. Asof jy na enige plek kan gaan."

Christiaan het op 14 sy eerste alleenvlug aangepak. Hoewel die senuwees maar geknaag het, was dit nie so moeilik nie omdat sy sweefbrein reeds lankal die kontroles bemeester het.

"Ek het dit in 'n stadium oorweeg om 'n kommersiële vlieënier te word, maar mettertyd besef ek sal nie daarvan hou om so gereeld weg van my familie te wees nie."

Christiaan se broer, Tienie (20), studeer meganiese ingenieurswese en sy kop staan ook na die vliegbedryf toe, sê Christiaan.

Hy vlieg meestal gedurende naweke en neem gereeld aan sweefkompetisies deel.

"Ons is twee wat saam vlieg. Dis lekker en minder spannend wanneer iemand saam met jou vlieg."

Christiaan is 'n man wat hou van syfers. Sy gunstelingvakke op skool was fisiese wetenskappe en rekeningkunde. Op skool het hy fiks gebly deur vir die eerste hokkiespan uit te draf.

Christiaan se ma, Lucy, is 'n apteker.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM