Dit het nooit vir Cristen Koegelenberg (18) gevoel of sy anders is as haar vriende of ander kinders nie - dit is hoe sy grootgemaak is. Sy het dus nooit dat haar spina bifida haar lewensgehalte beïnvloed nie.
Sy lag as sy vertel dat haar ouers haar soms daaraan moet herinner dat sy beperkings het: "Daar is tye wat hulle vir my sê ‘Cristen, jy moet besef as jy buite is, mense sien nie vir jou soos jy hulle sien nie. Hulle dink nie jy is soos hulle nie en jy lyk soos 'n easy target soms. Wees versigtig.' Dan moet ek hulle herinner ek is nie drie nie, ek is fine!"

Cristen is gebore met spina bifida, 'n afwyking van die neuraalbuis wat ontstaan in die baarmoeder wanneer een of meer werwels in die fetus se ruggraat verkeerd gevorm word. Dit is ongeneeslik en kan tot fisieke en selfs verstandelike gestremdhede lei. Maar dit het haar nie gekeer om 'n vol lewe te geniet nie.
Jy kan dit sien as jy hierdie oudleerling van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch ontmoet: sy het 'n vonkel in haar oog en 'n lus vir die lewe en noudat sy matriek met universiteitsvrystelling en drie vak-A's geslaag het, is dié Stellenbosser slaggereed vir 'n nuwe hoofstuk.
"Ek moet soms my beperkinge in ag neem en om dinge vir myself makliker te maak, gaan ek by die Universiteit Stellenbosch studeer, sodat ek steeds by die huis kan woon.
"Ek is ná al die jare so gemaklik in en vertroud met Stellenbosch dat ek net my studentelewe makliker wil maak. Ek weet al presies waar in Stellenbosch ek kan gaan as ons uitgaan, want die plek moet rolstoelvriendelik wees en die badkamers toeganklik," deel sy.
Vir Cristen is beweging haar grootste struikelblok en maak sy meestal gebruik van 'n rolstoel.
"Ek kan loop met behulp van my kruk, maar my rolstoel is meer gerieflik, veral in ander plekke wat buite en vreemd is. Ek gebruik net die kruk in plekke waarmee ek gemaklik en vertroud is, soos by die huis. Ek het dit in die skool gebruik."
Oor die besluit om 'n hoofstroomskool by te woon, sê Cristen daar was nooit 'n ander keuse nie. Sy is in die Paarl gebore, waarna die gesin in haar gr. 4-jaar na Stellenbosch verhuis het. Sy het toe begin skoolgaan by die Laerskool Stellenbosch, wat volgens haar net so 'n goeie ervaring soos Bloemhof was.
"Daar is baie skole vir kinders met spesiale behoeftes en my ouers was bekommerd om my na 'n hoofstroomskool te stuur, maar ek kon nie vir 'n beter ervaring vra nie. Hulle het altyd seker gemaak ek is reg en het my met alles in ag geneem."

Sy het baie lof vir haar alma mater wat haar lewe baie makliker gemaak het deur middel van aanpassings.
"Dit was vir my baie moeilik om met my rolstoel rond te beweeg in die skool, want daar is redelik baie trappe. Ek het toe besluit dat my kruk en die traprelings my enigste ondersteuning sal wees. Uit die aard van die saak was ek dus baie stadiger en nie so stabiel nie, so om my kans te gee om betyds en veilig by die volgende klas uit te kom, het ek elke klas vyf minute voor die klok gelui het, verlaat," sê sy oor haar tyd op skool.
Sy is ook dankbaar vir haar wonderlike ouers wat daartoe bygedra het dat sy nooit geglo het daar is iets fout met haar of dat sy anders is nie.
"Ek waardeer dit dat my ouers my so grootgemaak het. Dit het my die mens gemaak wat ek vandag is. Ek verwag nie dat enigiemand my op enige ander manier behandel nie. Ek wil net myself wees.
"Ek het altyd gedink ek kan alles doen wat anders kinders kan doen - en ek kon altyd en doen steeds. Ek wou wees waar my maatjies is. 'n Spesiale skool was nooit een van my keuses nie."
Op skool het sy deelgeneem aan aktiwiteite soos skaak, sy het geskryf vir die skoolkoerant en geleenthede bygewoon as daar vroegtydig logistieke reëlings uitsorteer is, soos om haar rolstoel by die skool te hê en met vriende te reël om haar te stoot as hulle vinnig by 'n spesifieke plek moes wees.
Sy erken egter dat sy regtig sukkel om hulp te vra, want sy wil alles op haar eie doen.
"Dis net nie hoe ek lewe nie. Ek probeer om so normaal as moontlik aan te gaan. Tot my vriende vergeet soms van my spina bifida en wil na plekke gaan wat nie rolstoelvriendelik is nie. Dan moet ek hulle vinnig daarvan herinner," sê sy laggend.
Sy besef wel dat universiteit vanjaar 'n uitdaging gaan wees en sy sal moet sê as sy hulp kort, maar sy is meer as gereed daarvoor. Cristen gaan menslikehulpbronnebestuur studeer.
"Ek is tevrede met myself en baie dankbaar vir die mense rondom my wat nie dink my spina bifida maak my anders nie en ek waardeer dit baie. Hulle almal het my gemaak wat ek vandag is," sê sy met 'n groot glimlag.
Nadat Cristen groet, vat sy met haar rolstoel die pad deur die besige strate van Stellenbosch - vreesloos en met haar kop omhoog gelig.




















