Om 'n ouer in jou matriekjaar te verloor is een van die moeilikste dinge wat 'n kind kan deurgaan, maar Donna-May von Graevenitz sê dit het van haar 'n sterker mens gemaak.
Donna-May het verlede jaar aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp matriek geskryf en al sewe haar vakke met onderskeidings geslaag - Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskundige geletterdheid, lewensoriëntering, besigheidstudies, drama en rekeningskunde.
Haar ma is in April verlede jaar in die ouderdom van 50 oorlede.
"My ma het lank gesondheidsprobleme gehad nadat sy as 17-jarige in 'n motorongeluk was. Verlede jaar was dit baie erg want sy het gereeld sleg gevoel en was dan by die hospitaal vir medikasie. Die dokters het net vir haar verskillende pille gegee, maar niks het regtig gehelp nie. Ná haar dood het ons steeds geen duidelike antwoorde oor wat gebeur het nie."

Donna-May sê haar jonger boetie, wat nou in gr. 10 is, woon by haar pa in Randfontein, maar sy het by 'n vriendin se ouerhuis ingetrek om haar matriekjaar te voltooi.
"Dit was 'n groot aanpassing want almal het mos hul eie manier van dinge doen. Ek is egter baie dankbaar dat ek verlede jaar by hulle kon bly en op my skoolwerk kon fokus."
Donna-May is baie lief vir drama en is trots daarop dat sy verlede jaar die beste punt in haar graad gekry het in haar praktiese drama-eksamen.
"Ons skool se leuse is ‘Liewer slyt as roes' en ons het ook so 'n toekenning. Ek het dit verlede jaar ontvang omdat ek steeds akademies presteer het ten spyte van my ma se dood."
Donna-May gaan vanjaar drama aan die Performing Arts Lifestyle Institute (Pali) in Pretoria studeer.
"Ek sou nie sê ek wou altyd drama gaan studeer nie, want ek was nie seker of dit 'n realistiese toekomsdroom is nie. My droom was aanvanklik om regte te gaan studeer, maar ek het laat aansoek gedoen by universiteite as gevolg van my ma se dood. Ek het toe eers aan die einde van November gehoor ek het wel toelating gekry. Toe het ek reeds besluit om eerder by Pali te gaan studeer. Ek was daar vir 'n oudisie vroeër in die jaar en het net verlief geraak op die plek!"
Donna-May is positief oor haar toekoms in Suid-Afrika: "Daar is soveel geleenthede om iets van jouself te maak in ons land. Ek dink ons generasie is tot so baie in staat en ek dink ons kan help om die land en selfs die wêreld 'n beter plek te maak."



















