Skok en ongeloof.
Dit is wat Hope Harper (18), oudleerling aan die Hoërskool Bredasdorp, ervaar het toe beide haar ouers, Tobias (52) en Margaret (51), in een jaar oorlede is.
Haar ma is op 18 Februarie 2021, 'n maand voor haar verjaardag, aan kanker oorlede en haar pa is skielik in Julie dood.
Volgens Hope kon sy nie dink dat sy beide haar ouers in een jaar sou verloor nie. Haar hele lewe is onder haar uitgeruk en sy moes met haar pa se afsterwe weer deur al die emosies en seer gaan wat sy aan die begin van die jaar ervaar het.
"Dit was regtig onverwags. In 2019, toe kanker by my ma gediagnoseer is, is ek eers ná my eindeksamen daardie jaar van haar diagnose vertel. Ek het gedink sy gaan gesond word, maar ongelukkig was dit haar nie beskore nie.
"En asof dit nie erg genoeg was nie, is my pa skielik dood. Ek was in daardie tyd gebroke. Niemand het my pa se dood sien kom nie," sê sy.
Hope sê die dag toe haar ma oorlede is, was sy by die skool en haar oom het haar by die skool kom haal om die nuus met haar te deel.
"Dit was vir my 'n groot skok, maar ek onthou goed ek het nie gehuil toe hy dit vir my sê nie, want ek kon nie alles verwerk nie. Dit was vir lank so gewees.
"Toe ek ná alles weer terug is skool toe, het ek steeds nie gehuil nie. En toe kom dit op 'n punt waar ek voel ek mis my ma en ek bars in trane uit."
Hope vertel haar ma het onmiddellik met behandeling begin nadat sy gehoor het sy het kanker.
Sy voeg by die diagnose was ook onverwags omdat niemand in haar familie al kanker gehad het nie.
"Toe ek van my ma se diagnose uitvind, het ek net gedink dat sy nie meer lank het nie. Veral oor al die stories wat ek al gehoor het dat mense met kanker se kanse op 'n lang lewe skraal is. Maar my ma was altyd optimisties oor wat ná die behandeling vir haar gaan voorlê.
"Sy was vir 'n lang tyd siek, maar sy was nooit iemand wat gesê het sy het pyn nie. Tog was daar tye wat dit vir haar ondraaglik geword het en dan het sy vir my geroep om vir haar te kom help met iets.
"My ma het altyd ná die behandeling gesê sy kan nie wag om weer op haar voete te wees en dorp toe te stap nie. En ná elke gesprek het ek gedink: sjoe, die behandeling gaan regtig werk en dan gaan ons weer na normaal terugkeer. Maar dit het nie," sê Hope.
'n Tweede skok tref
'n Paar maande daarna is haar pa ook oorlede.
"Niemand het my pa se dood sien kom nie," sê sy sag.
"Ek het daardie tyd by my tannie gewoon. My ma het destyds gesê ek moet daar gaan bly sodat hulle 'n ogie oor my kan hou, want my pa was baie besig by die werk. My tannie het Covid-19 gehad en die dag toe haar isolasietydperk om is, het sy my kom wakker maak en die nuus gegee. Ek kon dit nie glo nie. Die outopsieverslag het later getoon dat hy 'n maagseer gehad het en dit is waaraan hy oorlede is."
Hope sê haar hele familie asook die skool was baie ondersteunend gedurende die hartseer tyd.
"Die dag voordat ek terug is skool toe ná my ma se dood, was ek 'n bietjie angsbevange. Ek het toe my onderwyser gebel en gevra dat niemand vir my moet drukkies gee nie. Ek weet hulle gee om en dat hulle my ondersteun, maar ek was bang dat ek emosioneel gaan word en huil.
"Ná my eerste dag terug by die skool het my juffrou vir my 'n koevert gegee met 'n klomp briefies in van my klasmaats. Dit was vir my 'n baie mooi gebaar," sê sy met 'n glimlag.
"Daar is so baie dinge van hulle albei wat ek vir altyd sal onthou.
"Soos my pa wat net op die ingewing van die oomblik besluit het ons gaan uit vir die dag of hy sal vir my by die skool kom haal, dan sal ons iewers gaan koffie drink.
"Daar is so baie dinge van my ma, ek kan nie een ding uitsonder nie."
Hope sê haar ouers se dood het 'n groot impak op haar lewe en dat sy hulle baie mis.
"Ek kyk na my vriendin en haar ma en hoe hulle soms vassit en dan staan ek terug en dink: sjoe, ek sal nooit weer met my ma kan gesels of sekere goed saam met haar kan doen nie.
"Ek het veral met my matriekafskeid na haar verlang. Meeste van die tyd is ek oukei en my ouma-hulle sal altyd sê: ‘Ons mis jou ma en pa darem nou baie vandag.'
"Ek gaan hulle verskriklik mis, veral met tye wanneer iets belangrik in my lewe gebeur. Maar ek weet hulle albei kyk nou af op my."
Hope wil graag vanjaar maatskaplike werk aan óf die Universiteit Kaapstad óf die Universiteit van Wes-Kaapland studeer na sy gister matriek met univeristeitsvrystelling geslaag het.















