Daar is nie 'n spesifieke resep om die nr. 1-matrikulant in die land te word nie, maar harde werk oor baie jare, goeie werksetiek en dissipline help beslis.
So glo Melissa Müller (18), oudleerling van Rhenish Girls' High School in Stellenbosch, wat Donderdagaand op die onderwysdepartement se toekenningsgeleentheid as die toppresteerder in openbare skole aangewys is. Die funksie vir die topmatrikulante van 2023 is in Fairland, Johannesburg, aangebied.
Melissa is ook as die algehele toppresteerder in kwintiel 5-skole en in wiskunde aangewys.
Sy was Donderdagaand steeds oorbluf en sê die prestasies moet nog by haar insink.
"Dit was iets waarvoor ek gehoop het 'n paar jaar gelede, maar ek het nie gedink ek sal dit kan doen nie," voeg sy by.
Kort nadat haar dogter die prys ontvang het, het haar ma, Lucille Müller, die oomblik as "ongelooflik" beskryf.
"Ek is sprakeloos," het sy bygevoeg.
"Ons het reeds haar skoolklere weggegee. Ons het nie gedink sy sal die topdrie haal nie," sê Lucille.

Volgens Lucille was sowel wiskunde as fisiese wetenskappe van Melissa se gunstelingvakke in haar hoërskoolloopbaan.
Melissa, wat ook 'n leier aan Rhenish was, het in haar matriekjaar vir haar skool se eerste span hokkie en waterpolo gespeel.
Lucille sê Melissa se sterkpunt in haar matriekjaar was om balans te vind.
"Sy is baie lief vir sport en dit het baie van haar tyd opgeneem. Dit het haar egter ook baie selfdissipline geleer."
Melissa wil vanjaar megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hierdie spesialisveld behels die ontwerp van elektromeganiese stelsels, soos sensors, slimfone, satellietstelsels, en so meer.
Haar boodskap aan die matrikulante van 2024 is om hulle matriekjaar te geniet, hoewel dit stampvol met allerhande dinge gaan wees.
"Gebruik die hulpbronne tot jou beskikking: onderwysers, vriende en familielede. Vra hulp as jy dit nodig het," sê sy.
Ethan Meyers van Herzlia High School in Kaapstad is die land se toppresteerder aan 'n onafhanklike skool. Meyers het nie Donderdagaand se prysuitdelingsgeleentheid bygewoon nie.




















