Figuurskaats en yshokkie is nou nie heeltemal so sinoniem met Suid-Afrika soos vleisbraai en rugby nie, maar Tanith Bussac vertel dat dit juis deur haar Afrikaanse ouers se toedoen was wat tot haar prestasies in dié sport gelei het. "My ma het figuurskaats gedoen toe sy jonger was, en my pa is baie sportief en yshokkie is een van die sportsoorte wat hy beoefen het."
Tanith het verlede jaar met twee onderskeidings (in Engels eerste addisionele taal en toerisme) aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp gematrikuleer.

"Ek was in gr. 1 toe ek die eerste keer saam met my ouers gaan ysskaats het. Aanvanklik het ek niks daarvan gehou nie! My ma het my egter aangemoedig om vir klasse te gaan, en ek was sewe toe ek my by die Ice Rink Academy by die Northgate-ysskaatsbaan aangesluit het. Ons oefen meestal op hierdie baan, maar baie kompetisies vind by die Forest Hill-baan in Centurion plaas," sê sy.
Sy was in 2021 deel van 'n gesinchroniseerde span, Team In-Sync, wat buitengewoon goed op die nasionale byeenkomste presteer het en uiteindelik gekies is om Suid-Afrika by Tissot Neuchatel in Switserland te verteenwoordig.
"Ons span is in 2019 eers gestig en daar was aanvanklik 16 van ons. Met Covid-19 en die inperking kon ons nie baie oefen nie, en het maar op Zoom probeer saamoefen aan ons bewegings. Daarom was ons baie verbaas om in 2021 vir die byeenkoms in Switserland te kwalifiseer. Dit was een van die beste ervarings in my lewe. Die atmosfeer, en om ander spanne te sien skaats, sal ek altyd onthou."
Tanith was nie verlede jaar deel van die span nie, en het gefokus op matriek, maar sy het steeds tyd gemaak om af en toe aan solo-skaatskompetisies deel te neem.
"Die span reis baie, en ek het verlede jaar besluit om op my laaste skooljaar te fokus. Ek sal wel weer wil aansluit by hulle, maar dit hang alles af van my planne vir hierdie jaar. Ek weet die span wil kwalifiseer vir 'n groot internasionale byeenkoms wat vanjaar in Pole gehou word."
Tanith sê een van die grootste uitdagings vir skaatsers in Suid-Afrika is dat dit moeilik is om as 'n sport te bevorder. Daar is nou nie 'n ysskaatsbaan om elke hoek en draai in Suid-Afrika nie. "Ons moet rondom 'n baie beperkte ystyd werk, maar ons probeer steeds ons beste in die kort tye wat ons wel kan oefen."
Tanith gaan vanjaar grafiese ontwerp aan die Vega-skool studeer.




















