Matrieks

FOTO’S | Matriekeindeksamen is verby!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die matriekleerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad het Maandagmiddag die einde van hul matriekeindeksamen gevier deur in die skoolswembad te spring - skoolklere en al.

Die matriekeindeksamen eindig amptelik eers Woensdag, met leerlinge wat nog onder meer ontwerp en musiek moet skryf, maar Maandag was die laaste dag waarop ál die matriekleerlinge van die skool saam 'n vak geskryf het.

Die tradisie om by die swembad in te spring en die einde van die jaar te vier, is al jare aan die gang, maar verlede jaar is 'n bykomende element bygevoeg.

'n Klok, wat verlede jaar aan die skool geskenk is, word nou gelui om die afsluiting van die hoërskoolhoofstuk van die leerlinge se lewens aan te dui, sê Layla Erasmus, 'n matriekleerling aan die skool.

Lucas Wasserman (18, links) skiet sy klasmaat Benjamin Shaw (18) hoog in die lug op in die Hoërskool Jan van Riebeeck se swembad om die einde van die eindeksamens te vier.  Foto: Theo Jeptha
Lucas Wasserman (18, links) skiet sy klasmaat Benjamin Shaw (18) hoog in die lug op in die Hoërskool Jan van Riebeeck se swembad om die einde van die eindeksamens te vier. Foto: Theo Jeptha

'n Gr. 8-leerling lui die skoolklok op die eerste dag van die hoërskoolloopbaan en dan lui 'n matriekleerling dit op die laaste dag van hulle s'n.

"Dit is simbolies om dié hoofstuk van 'n mens se lewe af te sluit."

Mari Swanepoel, hoofleier, sê dit is ook simbolies omdat die klok nie perfek is nie.

"Net so hoef jy ook nie perfek te wees nie. Jy kan steeds blink en die suiwerste klanke voortbring."

Vanjaar het 'n matriekleerling bo op die duikplank gestaan en die klok gelui.

Daarna het die leerlinge 'n geeslied gesing en in die water gespring.

Matriekleerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck vier die einde van matriek.  Foto: Theo Jeptha
Matriekleerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck vier die einde van matriek. Foto: Theo Jeptha
Matriekleerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck is dankbaar die einde van die eksamens het aangebreek.  Foto: Theo Jeptha
Matriekleerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck is dankbaar die einde van die eksamens het aangebreek. Foto: Theo Jeptha
Matriekleerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck spring Maandag in die skool se swembad as deel van die tradisie om die laaste dag te vier waarop ál die matriekleerlinge van die skool saam 'n vak geskryf het. Foto: Theo Jeptha

Matriekleerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck jubel oor die einde van hul eksamen.  Foto: Theo Jeptha
Matriekleerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck jubel oor die einde van hul eksamen. Foto: Theo Jeptha

Vir Liezel Snijders, hoofmeisie, was dit 'n bevrydende gevoel om in die swembad te spring. "Dit was so spesiaal."

Die tradisie gaan ook een stap verder. Die nat skoolklere word in sakke geplaas, gewas en dan aan die skool geskenk.

Volgens Snijders kan leerlinge van die skool dan hul klere inruil vir 'n groter of kleiner nommer en so geld bespaar.

Pieter Rademeyer, skoolhoof, se boodskap aan die inkomende matriekleerlinge is dat dit baie belangrik is dat matrieks, meer as ooit tevore, besef hoe belangrik tydsbestuur is.

"Daar is nie 'n minuut om te mors nie. Die gr. 12-akademiese jaar is baie kort, so julle moet van die begin af skouer aan die wiel sit en besluit dat jy nie wil agterraak nie.

"Doen elke dag jou bietjie, dan sal jou harde werk beloon word."

Rademeyer herinner die leerlinge ook daaraan om al die unieke matriekoomblikke aan te gryp. "Dit is baie spesiaal en sal vir mooi herinneringe in die toekoms sorg."

• Stefani Terblanche is 'n Netwerk24-beursjoernalis.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM